
1. Het God sy rug op die aarde gedraai?
In 1802 skryf ʼn Engelse biskop, William Paley, dat ʼn mens die skepping met ʼn horlosie kan vergelyk. Dink aan so ʼn groot ou sakhorlosie aan ʼn ketting wat ʼn mens in daardie tyd gekry het. Sê nou maar, het Paley gesê, jy stap in ʼn veld en jy kom op hierdie horlosie af. Selfs al het jy nog nooit vantevore ʼn horlosie gesien nie, dan sal die fyn ontwerp, die presiesheid waarmee die ratjies draai, ens. jou laat besef dat iemand hierdie horlosie gemaak het. Dit kon nie maar vanself so aanmekaar gespring het nie. Net so, het Paley toe voortgegaan, as ʼn mens na die skepping kyk – hoe wonderlik al die verskillende sisteme saamwerk – dan sal jy moet erken dat die heelal deur ʼn God geskep is. So het hy die bestaan van God probeer bewys. Die probleem is net: as ʼn mens ʼn horlosie in ʼn veld optel, dan is daar ten minste een ander feit wat jou ook in die gesig staar. Die een aan wie die horlosie behoort is nie daar nie. Hy het óf die horlosie verloor, óf dit weggegooi. Is dit ook hoe ons oor God moet dink? Dat God die skepping gemaak het, dit soos ʼn horlosie opgewen het, en dit toe iewers gelos het dat dit nou maar volgens sy eie wette voortgaan. Maar God self het niks meer met die skepping te make nie. Hy is weg.