Luister Preek | Laai Preek Af |
Voel jy ook partykeer of jy niks werd is nie? Of jy net in ʼn swart sak moet klim en jouself in die asblik gaan gooi? Mens kry mos partykeer weke by die werk wanneer mense met alles fout vind wat jy doen. Eenvoudig niks is goed genoeg nie. Of jy self voel dat jy nie regtig besig is met iets wat die moeite werd is nie. Of jy sukkel met jou naby verhoudings: jy sukkel om ʼn goeie pa of ma te wees, jy sukkel om erkenning van jou pa of ma te kry, jy sukkel om ʼn goeie man vir jou vrou te wees; om ʼn goeie vrou vir jou man te wees... jy sukkel! Dit voel nie of ek regtig iets werd is nie. Is dit dalk hoe jy vandag voel – in hierdie tyd voel? Is daar dalk op hierdie stadium mense in jou omgewing wat jou afkraak of verkleineer? En partykeer weet hulle nie eers hulle doen dit nie, maar dit gebeur in elk geval, en partykeer maak dít die seerste, nie waar nie.