
ʼn Altaar aan ʼn onbekende god! Hoekom sal ʼn mens so ʼn altaar wil bou? Hoekom sal ʼn mens iets te doen hê met ʼn god wat onbekend is vir jou? Wel, die rede waarom die mense van die stad Atene destyds ook ʼn altaar aan ʼn onbekende god tussen al hulle ander tempels en altare gehad het, was waarskynlik dat dit ʼn soort versekeringspolis moes wees. Die mense van die Griekse wêreld van destyds het geglo dat daar baie gode is, en dat hierdie gode baie soos ons mense optree. So was die gode baie gesteld op eer, en ʼn god sou sommer vinnig jaloers word as hy of sy nie die eer kry wat hulle toekom nie. Daarom dat die Ateners eerder veilig wou speel, en ook ʼn altaar aan ʼn onbekende god opgerig het, waar hulle dan offers gebring het – net vir in geval hulle vergeet het om een van die baie gode te vereer vir wie hulle moes vereer. Lekker belaglik, nè... of is dit? Is daar nie dalk iets daarvan in vandag se wêreld en in ons eie lewens nie?