
1. Het God sy rug op die aarde gedraai?
In 1802 skryf ʼn Engelse biskop, William Paley, dat ʼn mens die skepping met ʼn horlosie kan vergelyk. Dink aan so ʼn groot ou sakhorlosie aan ʼn ketting wat ʼn mens in daardie tyd gekry het. Sê nou maar, het Paley gesê, jy stap in ʼn veld en jy kom op hierdie horlosie af. Selfs al het jy nog nooit vantevore ʼn horlosie gesien nie, dan sal die fyn ontwerp, die presiesheid waarmee die ratjies draai, ens. jou laat besef dat iemand hierdie horlosie gemaak het. Dit kon nie maar vanself so aanmekaar gespring het nie. Net so, het Paley toe voortgegaan, as ʼn mens na die skepping kyk – hoe wonderlik al die verskillende sisteme saamwerk – dan sal jy moet erken dat die heelal deur ʼn God geskep is. So het hy die bestaan van God probeer bewys. Die probleem is net: as ʼn mens ʼn horlosie in ʼn veld optel, dan is daar ten minste een ander feit wat jou ook in die gesig staar. Die een aan wie die horlosie behoort is nie daar nie. Hy het óf die horlosie verloor, óf dit weggegooi. Is dit ook hoe ons oor God moet dink? Dat God die skepping gemaak het, dit soos ʼn horlosie opgewen het, en dit toe iewers gelos het dat dit nou maar volgens sy eie wette voortgaan. Maar God self het niks meer met die skepping te make nie. Hy is weg.
So, terwyl ʼn mens Paley se boek so kan verstaan as dat God sy rug op die skepping gedraai het – God is ver weg, en het niks met die skepping te make nie, kan jy nou Dawkins se boek so verstaan as dat die natuur ook die rug op God gedraai het. Ons wil niks van God weet binne die natuur nie; ons het God nie nodig nie. Al wat oorbly is maar net hierdie proses. Daar is geen sin aan die lewe nie. Die lewe is nie iewers heen op pad nie. Daar is geen manier hoe mens kan sê een ding is beter as ʼn ander nie. Alles wat is, is maar net, en as jy dood is, is jy nie meer daar nie. ʼn Wêreld waarop God sy rug gedraai het, maar ook ʼn wêreld wat sy rug op God gedraai het.
2. God se verbond met die aarde
As ʼn mens die verhaal van die sondvloed lees in Genesis 6,7 en 8 dan kan jy nogal dink dat dit juis die situasie is wat daar beskryf word. Dis asof God sy rug wou draai op die skepping. God was jammer dat hy die mense gemaak het; Hy het besluit om alles van die aarde af weg te vee. En dan kom die vloed en die water is amper ʼn simbool van chaos. Daar is niks vorm meer nie; alles vloei net inmekaar en spoel net weg. Is dit wat die skepping is? Is dit wie God is?
Die uiteinde van die verhaal van die sondvloed is juis om vir ons te sê dat dit nie is wie God is nie, en dat dit nie is hoe die skepping is nie. Want, al hier aan die begin van hoofstuk 8, hoor ons dat God gedink het aan Noag en die mense saam met hom in die ark. Dan, in hoofstuk 9 verbind God hom met ʼn verbond aan die mense en die aarde: die aarde sal nie weer so ʼn chaos soos die sondvloed beleef nie. So die uiteinde van die sondvloed verhaal sê juis vir ons dat God nie ver weg is nie; God het nie sy rug gedraai nie; God is naby!
En dan sê God dat ons die reënboog moet sien as ʼn teken van sy verbond, met ander woorde sy nabyheid en betrokkenheid by die aarde en by ons mense. Die reënboog ontstaan wanneer die son se strale skyn op die wolke en vogtige lug naby aan die aarde. So op ʼn manier verskyn die reënboog juis wanneer die hemelse (die son) en die aardse (die wolke en vogtige lug) bymekaar is. Dis die boodskap van die reënboog! Die reënboog wys in wat dit is dat God gewillig is om hier in alles van die aarde en die skepping betrokke te wees! Wat ʼn wonderlike boodskap. Miskien moes biskop Paley dalk eerder hierdie teken wat God self gegee het gebruik het, as die beeld van die horlosie.
3. Christus
Of miskien moes hy gegaan het vir die uitklophou. Want, sien, daar is nog ʼn helderder en duideliker bewys van God se nabyheid aan die skepping as die reënboog. Dit wat die reënboog hier in Genesis 9 sê is eintlik maar nog ʼn dowwe vooraf idee van die werklikheid. Die werklikheid is Christus! In Jesus Christus is dit eens en vir altyd duidelik dat God nie die skepping loslaat nie. God is in die skepping; die skepping dra die vingerafdrukke van die Seun van God, en die skepping word al hoe meer getransformeer volgens die vorm van Christus. God se liefde vir die skepping brand so sterk dat Jesus Christus tot die uiterste uithoek van die skepping gegaan het – die dood aan die kruis – om tot daar God se liefde die deurslag te laat gee. Daar is nêrens waar God nie is nie, en waar Hy nie wil wees nie. Dit is die boodskap van die reënboog, dit is die werklikheid in Christus, dit is wat ons vier in die sakrament van die nagmaal. Hierdie wêreld is vol van God, en is op pad na die volheid van lewe in God in.
4. Onthou ons?
Die vraag is net of ons mense dit van ons kant af onthou? Die Here leer ons hier in Genesis 9 dat Hy nie is soos ʼn horlosiemaker wat sy horlosie in die veld agter gelaat het nie. Elke keer weer hoor ons God in hierdie verse sê: Ek sal dink aan my verbond, Ek sal dink, Ek sal onthou. En ons weet in Christus is dit waar. Die vraag is net: onthou ons dat God naby is? Dink ons daaraan? Dit lyk in elk geval asof ʼn groot deel van ons wêreldkultuur maar optree asof Richard Dawkins se boek waar is. Asof die skepping maar net hierdie blinde proses is; asof daar geen God is nie. En wat dan? Nou ja, as dit so is, watter sin maak dit om te dink aan die welstand van die aarde as alles in elk geval sinneloos is? Watter sin maak dit om om te gee of die skepping bewaar word, of daar reg en geregtigheid is, of daar skoonheid is, as alles maar in elk geval net in die tyd gaan verdwyn – weggespoel deur blinde prosesse?
Maar nee, die Here het sy reënboog gegee vir óns as ʼn teken. Die reënboog is tog nie net daar vir God om te onthou nie. Hy het tog nie ʼn fisiese teken nodig nie. Hy gee dit juis vir ons as ʼn teken sodat ons sal onthou dat God onthou. Wanneer ons die reënboog sien moet ons onthou dat God onthou. En dan moet ons anders oor die wêreld dink en anders in die wêreld leef. Ons moet leef as mense wat weet dat hierdie wêreld iewers heen op pad is. Ons moet lewe as deel van ʼn skepping wat uitmond in God. En ons moet treur oor die vernietiging en uitbuiting wat daar in die wêreld plaasvind. Maar, liewe broers en susters, doen ons dit? Partykeer lyk dit asof ons as Christene die protes teen die uitbuiting en onreg in die wêreld oorlaat aan linkses en groenes wat Wall Street wil okkupeer ens, terwyl ons maar baie gemaklik ingeskakel het by ʼn kapitalistiese verbruikerskultuur? Is dit reg? Is dit reg?
Die boodskap van die reënboog is aan die een kant dat God naby is, dat Hy betrokke is. Maar aan die anderkant is dit ook dat die vernietiging nie weer sal gebeur nie. Daar is met ander woorde ook ʼn “nee” in hierdie boodskap. ʼn Nee vir die vernietiging. Hierdie “nee” is in Jesus Christus die duidelikste gesê waar die dood se angel getrek is. En nou, as liggaam van Christus is ons geroep om in die krag van die Heilige Gees hierdie “nee” verder te sê. Dit is nie reg dat sekere ouens ryk word ten koste van ander net omdat hulle kan nie. Dit is nie reg dat ʼn mens meer uithaal uit die natuur as wat weer teruggesit word nie. Hoekom nie? Want God is naby en die skepping is iewers heen op pad.
Aan die een kant word ons so getroos deur hierdie werklikheid: God is naby – ook in my lewe. Ook in my swaar. Hy sien die vernietiging wat ek in die gesig staar raak. Daar is ʼn reënboog in my lewe. Maar aan die anderkant, en miskien in aansluiting by Lydenstyd, is daar in hierdie woord van die Here vir ons ʼn oproep tot selfondersoek en verootmoediging. Tot hoe ʼn mate neem ek deel aan ʼn wêreldkultuur wat die rug op God gedraai het? Tot hoe ʼn mate doen ek niks? Tot hoe ʼn mate vergeet ek om te onthou?
AMEN