
johannes_12_-_die_eer_van_n_koringkorrel.docx |
Die eer van ʼn koringkorrel
1. Maak ek vir Jesus, of maak Hy vir my?
Maak ek vir Jesus, of maak Hy vir my? Vorm ek vir Jesus soos wat ek Hom graag wil hê, of word ek deur die Heilige Gees gevorm meer en meer volgens die vorm van Christus? Wie vorm vir wie? In die gedeelte waarna ons nou net geluister het, wil die skare daar in Jerusalem vir Jesus iemand maak wat húlle graag wil hê Hy moet wees. Baie van die mense wat vir die Paasfees in Jerusalem was het gehoor van die wonderteken wat Jesus net ʼn dag of wat vantevore gedoen het: Hy het vir Lasarus, wat al vier dae dood was, uit die graf geroep en hom uit die dood laat opstaan. Maar dan is hierdie Jesus mos ʼn ontsaglik magtige figuur! Hy kan die koning van Israel wees, hy kan Jerusalem en Palestina weer maak soos in die dae van Dawid en Salomo toe dit ʼn gerekende mag in die wêreld was – nie soos nou, waar dit maar ʼn klein uithoekie onder beheer van Rome is nie. Miskien is hierdie Jesus net die een wat die Romeine se oorheersing gaan afgooi... En dan kom staan baie mense met palmtakke langs die pad waarlangs Jesus in Jerusalem inkom, en hulle skree: “Hosanna! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en “Die koning van Israel!” Die vraag is net: was hierdie palmtak swaaiery nie dalk ʼn manier om vir Jesus in te palm nie? Was dit nie dalk ʼn manier waarop die mense vir Jesus wou inspan om húlle agendas en planne te dryf nie?