
lukas_13_31-35.docx |
1. Die jakkals
Jakkals – slinks, skelm ... en honger! Jakkals, kuikendief – die een wat in die hoenderhok inkom en die weerlose kuikens een vir een doodbyt net omdat hy kan.
G’n wonder ons mense gebruik so baie keer die beeld van ʼn jakkals om ʼn slegte, gewetenlose mens se karakter te beskryf nie. Hier, in die gedeelte waarna ons nou net geluister het, doen Jesus dit juis ook. Hy noem vir Herodes Antipas ʼn jakkals. Want, soos sy pa, Herodes die Grote voor hom, was Herodes Antipas ʼn regte boelie. Hy het die mag wat hy gehad het meedoënloos gebruik om te manipuleer, te onderdruk, voor te trek, af te knou en sy eie belange te bevorder. Soos ʼn jakkals in ʼn hoenderhok. En die kuikens daar in die hok? Hulle is maar uitgelewer aan die magstrukture en die magsmisbruik. Hulle lewe in vrees, hulle word gebyt, hulle lewe is nikswerd nie.