Luister Preek | | Laai Preek af | ![]()
|

1. Maak ek vir Jesus, of maak Hy vir my?
Maak ek vir Jesus, of maak Hy vir my? Vorm ek vir Jesus soos wat ek Hom graag wil hê, of word ek deur die Heilige Gees gevorm meer en meer volgens die vorm van Christus? Wie vorm vir wie?
In die gedeelte waarna ons nou net geluister het, wil die skare daar in Jerusalem vir Jesus iemand maak wat húlle graag wil hê Hy moet wees.
En dan die vraag: hoe baie van wat vandag rondom Jesus gebeur is nie ook maar so ‘n palmtak swaaiery nie? Hoe baiekeer word Jesus – met baie mooi vroom taalgebruik (Hosanna) – nie ingespan vir ons agendas nie? In vandag se wêreld het die naam van Jesus ʼn ontsaglike groot brand geword wat gekoppel is aan ʼn biljoen dollar bedryf. Hoeveel boeke, DVD’s, musiek cd’s en tydskrifte word nie verkoop onder die naam van Jesus nie? Hoeveel mense like vir Jesus op Facebook – asof hy ʼn openbare figuur is wat om dieselfde kollig moet meeding as Justin Bieber en Master Chef. Hoe maklik is dit nie om agter op jou motor ʼn plakker te plak met Real men follow Jesus, asof hy die poster boy van ʼn bepaalde soort manlikheid geword het. Nie dat dit alles noodwendig verkeerd is nie, maar ons moet die vraag vra. Omdat dit uit hierdie Skrifgedeelte aan ons gevra word. Word die palmtakke geswaai om eintlik vir Jesus in te palm? Wie vorm vir wie?
2. Die dissipels
Dit was die skare van mense daar in Jerusalem. Op ʼn manier kan ʼn mens dit nog verstaan, want dit is wat skares doen: media hype en massa histerie. Maar wat van die dissipels? Die dissipels het nou al ʼn hele ruk saam met Jesus gekom, en die eintlike vraag in Johannes se evangelie is of húlle tot ʼn dieper verstaan van Jesus kan kom, en wat daardie geloof dan sou beteken. Die dissipels was getuies van baie gebeurtenisse waar Jesus ʼn rampsituasie oopgemaak het, sodat iets van God se teenwoordigheid op ʼn misterieuse manier in daardie omstandighede sigbaar geword het. Die bruilof in Kana, waar die wyn opraak en Jesus dan ʼn oorvloed van wyn gee. Die genesing van die desperate en hopelose man by die bad van Betesda. Die groot skare langs die See van Galilea wat geen kos het nie, en dan gee Jesus vir hulle ʼn oorvloed brood en vis. En nou, die opwekking van ʼn man wat al vier dae lank dood was. Elke keer bring Jesus uitkoms in ʼn situasie wat vasgeval geraak het. Maar elke keer vertel Jesus dan ook vir hulle op ʼn misterievolle manier van sy verhouding met God die Vader. En die dissipels verstaan nie mooi nie. En hier in Johannes 12, hier aan die einde van Jesus se openbare optrede, waar dinge nou op ‘n klimaks afstuur, hier lees ons steeds dat die dissipels nie mooi verstaan het nie. Hoe moet hulle nou dink oor die palmtakke wat die mense swaai? Moet hulle saam swaai; kan dit regtig wees dat hulle nou gaan deel in hulle meester se triomf en glorie?
En so kom die vraag aan u en aan my vanoggend, broer en suster. Ons is ook dissipels van Jesus. Maar hoe baie verstaan ons ook nie wat aangaan nie? Hoe baie gebeur dit nie dat ek, juis as Jesus se volgeling, steeds maar wil hê dat hy moet wees soos ek hom wil maak nie? Skielik loop iets skeef by die werk. Ek verloor kontrakte, ek verloor ʼn klomp geld. Dit was die geld wat my kinders vanjaar in hulle skool moes hou. Dit was die geld waaraan ek so lank gespaar het om vanjaar vir ons ʼn swembad te bou. Waarom Here? Ek dien U. Ek bid, ek lees Bybel. Ek probeer dan nou juis my kinders grootmaak om U te ken. Waarom gebeur dit met my? Of, ek het nou net afgetree. Ek het al die jare ʼn verantwoordelike lewe gelei. Ek was ʼn geestelike leier in my gemeente. Nou gaan ek en my vrou ons aftrede geniet. Ons gaan lekker rondreis. Maar dan word ek siek, of my vrou word siek. En ek moet in die huis bly. Naby die hospitaal. Waarom gebeur dit nou? Wat nou gebeur pas nie in by my prentjie van hoe Jesus behoort op te tree nie. Dit voel vir my Hy hou nie sy kant van die ooreenkoms nie. Maar, hoor u dit: by mý prentjie van hoe Jesus moet optree. Kan dit wees dat ek, soos die dissipels hier in Johannes 12, steeds nie mooi verstaan nie? Dat ek, op ʼn manier, ook maar tussen die skare is met my palmtak, en vir Jesus wil inpalm. Jesus, tree nou op volgens die skema, die rol wat ek vir jou voorgeskryf het...
3. Jesus se woorde
Waar is Jesus in dit alles? Wat doen hy? Het u opgelet dat Jesus, volgens Johannes se weergawe, nie eenkeer praat tydens die hele intog in Jerusalem in nie. Jesus is stil. Al die palmtakke laat hom koud. En wanneer hy dan praat, wanneer Filippus en Andreas na hom toe kom, dan is sy woorde die volgende: “Die tyd het gekom dat die seun van die mens verheerlik moet word.” Maar wat behels hierdie verheerliking? In plaas van ʼn palmtak, gebruik Jesus die beeld van ʼn koringkorrel wat sterf om te verduidelik wat sy verheerliking behels. “As ʼn koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ʼn groot oes in.”
Jesus, die een wat gedurende sy hele lewe op aarde getrou aan God gelewe het. Hy het heeltemal net uit God se liefde gelewe en het gewys dat God se liefde mense se lewens verander. Maar nou, nadat dit alles gebeur het, moet Hy dit alles prysgee. Moet hy sien hoe dat hierdie lewe van hom as niks, as bespotlik beskou word. Watter heerlikheid is daarin? Wel, dit is die heerlikheid van die koringkorrel. Want waar die koringkorrel homself totaal en al prysgee, waar die koringkorrel self sterf, daar kan ʼn koringaar opkom wat self baie meer koringkorrels dra, sodat daar uiteindelik ʼn groot oes kan inkom. En so is Jesus se verheerliking daarin dat Hy juis nie ʼn koning en ʼn media persoonlikheid in wêreldse terme kom wees het nie. Hy het sy eie planne en drome en aspirasies totaal en al prysgegee, al was hulle juis die regverdigste en beste en liefdevolste van alle mense. Hy het alles prysgegee, en alles oorgelaat aan God. En daarom het God hierdie lewe van Jesus Christus opgewek en dit tot die wortel gemaak waaruit ‘n nuwe, dieper ware lewe van nou af kan uitspruit.
So Jesus Christus is die koning, ja, en daarom gaan sit hy op die donkie wanneer hy in Jerusalem inkom om so die profesie van Sagaria te vervul. Maar Hy is ʼn ander koning as wat die mense wil maak. Sy heerlikheid lê nie daarin dat hy baie invloed het oor mense nie; hy het die betekenis van lewe en dood self verander. Sy heerlikheid lê daarin dat hy alles prysgegee het – die lewe self – om daarna alles uit God se hand terug te ontvang. Nou kan en hoef ons nie meer dieselfde oor die lewe en die dood te dink nie. Vanuit hierdie verheerliking van Jesus, die verheerliking van die koringkorrel wat sterf, het sy dissipels later van tyd teruggekyk. En toe het hulle verstaan wie dit eintlik was wat daardie dag in Jerusalem ingekom het op die donkie.
4. Waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees
En nou weer die vraag aan jou en my, broer en suster: is ek bereid om vanuit hierdie heerlikheid van Jesus – die heerlikheid van die koringkorrel – na my eie lewe, my drome en my verwagtings te kyk? “Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand my wil dien, moet hy my volg; en waar ek is, daar sal my dienaar ook wees.”
Is dit vir my moontlik om alles – alles – prys te gee wat ek menslik gesproke as belangrik beskou? My hoop om eendag my kleinkinders te sien. My behoefte aan ʼn veilige en gemaklike huis om in te bly. My drome oor daardie babatjie wat in my vrou se maag groei. My behoefte aan respek en aan werksvervulling. My gesondheid. Kan ek dit alles verloor, kan ek dit alles neerlê, en dan nogtans in Jesus Christus ʼn dieper lewe ontdek? ʼn Lewe anderkant die dood, omdat ek saam met Jesus déúr die dood gegaan het. En hierdie lewe gaan dan nie noodwendig met palmtakke gepaard nie. Want dit is ʼn ander soort heerlikheid. Dit is die heerlikheid van die koringkorrel wat in die grond val en sterf. In Jesus Christus moet ek ook daardie koringkorrel wees. Mag die Here deur Sy Heilige Gees vir ons elkeen in ons eie lewe, en vir ons almal saam as gemeente, meer en meer lei om te verstaan wat dit vir ons beteken.
AMEN