| Hierdie week is die Sinode van ons kerkverband, die GKSA. Ek wil vandag bietjie saam met julle dink oor een van die belangrikste verse in ons kerkverband, maar een wat ek dink nie sin maak nie. Dit so belangrik dat dit selfs op die kerk se logo is: “Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.” Kinders, ’n poort is ’n groot deur, soos die deure agter in die kerk. Draai gou almal om en kyk na die kerk se deure – dis belangrik vir die preek. Goed, dink nou oor hierdie woorde: “Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.” |
16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Die 1983-vertaling en NLV praat van die “magte van die doderyk”, maar letterlik staan daar:
“die poorte of deure van Hades (doderyk/hel)”.
Hier is my vraag: Hoe kan ’n poort of ’n deur enigiets oorweldig? Ek bedoel, was jy al ooit bang vir ’n deur? Was jy al ooit bang om jou rug te draai op ’n deur omdat hy jou dalk stilletjies gaan oorweldig as jy nie versigtig is nie?
Poorte beweeg nie, poorte hou uit. Poorte is nie vir aanval nie, poorte is vir verdediging. Ons, die kerk, is nie op die verdediging nie. Ons probeer nie uithou teen die aanslae van die hel nie. Dis andersom – ons val die poorte aan! Ons val die koninkryk van die bose in. En die poorte van die hel sal nie ons oorweldig nie – ons sal wen!
Hoekom? Omdat ons gebou is op die rots, op hierdie belydenis van Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.
Hoor net wat beteken hierdie rots, hierdie belydenis vir die bose:
1. Markus 9:38: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe.”
2. Lukas 10:17: “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.””
3. Jakobus 2:19: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs.”
“U is die Christus, die Seun van die lewende God” – dis nie ’n verdedigingsmuur nie, dis ’n aanvalskreet!!!
Jakobus 4:7 sê nie verniet die volgende nie: “Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” Hy is bang, nie ons nie!
Jesus is die Christus, die Messias, die Verlosser, die een wat die dood klaar oorwin het.
Jesus is die Seun van die lewende God, die enigste God – daarom het die duiwel nie ’n kans nie!
Die duiwel se dae is getel, die tyd van die duisternis is verby, ons is die lig vir die wêreld wat lig bring oral waar ons kom. En die poorte van die hel kan ons nie keer nie – ons gaan ingaan en oorneem, want donkerte kan nie lig wen nie.
So, kom ons maak 2012 nie ’n jaar waar ons wegkruip en bang is en probeer verdedig nie.
Kom ons wees nie ’n kerk wat net wil beskerm en hou wat ons het nie.
Kom ons wees nie ’n groep mense wat bang is en koes nie.
Kom ons gaan die donker wêreld in met die lig van Jesus Christus.
Kom ons wees ’n gemeenskap wat op Jesus Christus gebou is.
Kom ons maak die duiwel bang, want hy kan nie wen nie.
Romeine 8:31-39:
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 MAAR IN AL HIERDIE DINGE IS ONS MEER AS OORWINNAARS DEUR HOM WAT VIR ONS LIEFHET. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Amen!