Luister preek | Laai preek af | ![]()
|
EK WEET NIE
1. Om te weet en om nie te weet nie
“Ek weet nie.” Beslis een van die moeiliker goed om te sê in die lewe. As jy sê jy weet nie, dan erken jy op ʼn manier jou eie swakheid. Jy kan nie sê wat nou moet gebeur nie. Jy is nie in beheer nie. Jy stel jouself bloot dat iemand anders vir jou kom sê wat om te doen. Iemand wat alles klaar uitgesorteer het, en wat wéét. Aan die anderkant, wanneer jy weet, en seker is van wat jy weet, en dit ook so sê, dan plaas jy jouself in ʼn posisie om vir ander te sê wat hulle moet doen. Ek gee leiding, jy moet my volg. En hierdie is ʼn sterk waarde in ons kultuur, is dit nie? Ek moet suksesvol oorkom, ek moet vol selfvertroue oorkom, ek moet seker van myself wees en my saak hard en duidelik stel. Ja-nee, as jy slim wil wees in vandag se wêreld is dit baie beter om te weet as om nie te weet nie.
Maar kyk nou net wat doen die Here deur Jakobus in hierdie situasie. Jakobus kom nie in hierdie deel van sy brief en sê vir die gelowiges: “man, julle is almal verkeerd, ék gaan julle nou leer” nie. As hy dit sou doen, dan sou hy eintlik dieselfde optree en maar net deel word van die geveg. Jakobus sê “wag ‘n bietjie, kom ons kyk na die vrugte van hierdie houding van julle. Wat is die resultaat daarvan wanneer elkeen so sterk wil weet van hulle saak en die ander so wil lei?” Vers 16 praat al van wanorde en van allerhande gemene dade. Maar hier van hoofstuk 4 af word die vrugte van die “ek weet, jy weet nie” -houding regtig oopgevlek: dit is bakleiery, rusie en stryd. Is dit dan nou gedrag wat tuishoort by kinders van die Here? Is dit hoe mense se lewe moet lyk wat in Jesus Christus ʼn nuwe lewe gekry het? Kyk na wat uitkom in julle lewe, en dan oordeel julle daarvolgens of julle regtig weet, soos wat julle sê.
Liewe broers en susters, is hierdie nie ook ʼn woord vir jou en my in ons lewe vandag nie? Wat sê die baie konflik waarin ons ons bevind van die stand van ons wysheid? Kom ons maak nou soos wat Jakobus vir ons hier sê en ons kyk na die resultate in ons lewe. Daar is maar baie konflik; daar’s baie rusie en bakleiery. Van die ou wat voor my insny met sy motor hier in Hans Strydom rylaan, tot by die konflik wat ek by die munisipale kantore met die man of vrou agter die toonbank beleef, tot by onenigheid oor hoe ons ons geld moet aanwend, tot by verskille oor die erediens en oor sakramente, en oor die gawes van die Gees, en, en, en... Kyk na die onvrede en die rusteloosheid in julle lewens, en dan vra julle julleself af of julle regtig wysheid het, sê Jakobus.
2. Hemelse wysheid
En hoor dan die alternatief! Daar is ʼn ander soort wysheid. Hier in sy brief praat Jakobus van ʼn wysheid wat van Bo kom, met ander woorde ʼn wysheid wat van God kom. Maar opvallend dat hy ook nie regtig presies sê wat hierdie wysheid is nie. Want dan was dit ook weer hy wat die ander wou leer. En hy waarsku hulle dan nou net oor hierdie houding van om heeltyd mekaar te wil leer. Kom ons kyk eerder na die resultate van die wysheid waarvan ek praat, sê Jakobus. Vers 13: “Is daar ʼn wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag, en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.” En vers 17: “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” Gaan kyk na die dade; kyk na die resultate in jou lewe en oordeel dan. Wat is dit wat tot vrede lei, ware diep vrede? Dít is die wysheid wat van God af kom.
Hier in die Here se Woord hoor ons vanoggend van ʼn ander wysheid. Dit is ʼn wysheid wat nie noodwendig daaruit kom dat jy alles uitgesorteer het en dit vir almal rondom jou leer nie. Dit is ’n wysheid wat nederig is, en nie van buite af wil kom met vooropgestelde idees nie. ʼn Wysheid wat bereid is om te wag, en in die situasie te soek na die ware diep vrede. Hoe kan ons dit in ons lewens ontdek?
Wel, miskien is hierdie wysheid ʼn houding wat in elkeen van ons se eie binneste moet begin. Jakobus verwys ʼn paar keer na ons harte, na ons begeertes en ons emosies. Miskien moet ons daar begin. As ek ʼn houding het van: my binnekant is reg, my verhouding met God is reg, my sondes is vergewe, ek moet nou maar net aangaan en die werk gedoen kry, dan kan dit wees dat ek ʼn stuk nederigheid prysgee. Want onthou, al is ek in die regte verhouding met God deur Jesus Christus, dan is daar ʼn hele lewensreis van om nou al hoe meer soos Jesus te word. En dit gebeur nie vanself nie. Die wysheid wat van Bo kom beteken dat ek moet stil word. Hou op alles weet. Begin luister na wat hier binne aangaan. En dit mag wees dat ek – ja ek as Christen – dan bewus word van ʼn wanordelike klomp begeertes wat hier binne in my woed. Dan word ek die kant toe getrek, dan weer daardie kant toe. En my ego, my ou self speel maar lekker saam. Dit gebruik al hierdie passies om homself sterker te maak. Waar kom die jaloesie in my binneste vandaan? Waar kom die selfsug vandaan? Is ek ooit bewus daarvan? Die wysheid wat van bo kom word stil en luister en probeer onderskei wat hier binne aangaan. Hoe klink die uitnodiging na vrede hier binnekant?
Dit in die eerste plek. Maar in die tweede plek gaan die wysheid wat van Bo kom ook oor wat ek in my omstandighede dóén. Hoe reageer ek op my ervaringe, op my situasie? Kom ek van buitekant af met vooropgestelde idees? Baiekeer dalk ook juis idees van hoe ek dink ʼn Christen behoort op te tree. Maar van waar af kom daardie idees regtig? Ook wat my optrede in my omstandighede betref kan dit baie waardevol wees as ek soms erken dat ek nie weet nie, en net wag, en probeer onderskei: hoe word ek in en deur hierdie omstandighede uitgenooi na ʼn pad van groter vrede toe? “Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak,” sê vers 18.
Die vrede van God in my, die vrede van God in my omstandighede en dan, in die derde plek, die vrede van God tussen my en jou. Is dit nie so dat ons juis as gelowiges baiekeer met ʼn “ek weet, jy weet nie” – houding na mekaar toe kom nie, broers en susters? By ons predikante bosberaad die afgelope week het ons dit ook weer teenoor mekaar erken. Ons sien dit in die gemeente, ons sien dit in ons kleingroepe, ons sien dit in die kerkverband, ons sien dit in ons lewe. Maar wat maak ons nou met ons verskille? Probeer ons dat die een standpunt die ander oorwin? Nou ja, dit is seker so dat ʼn mens soms nie anders kan as om te sê: hier staan ek, ek kan nie anders nie. Ek dink nie jy is reg nie. Maar in baie – selfs meeste – van die gevalle loop die hemelse wysheid juis ʼn ander pad. “Is daar ʼn wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van wysheid en nederigheid getuig.” Miskien vra wysheid net baie meer: hoe kan ek radikaal lief wees vir jou? Hoe kan ek nederig wees in hierdie situasie? Hoe kan ek die minste wees? Is dit nie ons roeping nie, broers en susters? Om radikaal lief te wees. Om radikaal te dien. Om radikaal die diep vrede te soek vir die mense rondom my – ook die mense daar buite wat oor my pad kom.
3. Jesus Christus
ʼn Wysheid wat nie al die antwoorde het nie; ʼn wysheid wat uitkom in liefdevolle en nederige optrede; ʼn wysheid wat uitkom in swakheid, nie in sterkte nie. Ja, dit is die wysheid wat van Bo kom, hoor ons hier. En nou, aan die einde, nadat ons gehoor het dat ons minder moet praat en meer moet luister en doen, nou kan ons opmerk dat hierdie wysheid wat van Bo kom mos juis Iemand is. Jesus Christus self is hierdie wysheid. Hy, die Seun van God wat alles is en alles het, sien Hom in jou geestesoog heeltemal uitgetrek, kaal en weerloos aan ʼn kruis. Daar word haat en selfliefde se mag gebreek. Daar, in radikale nederigheid kom die vrede. Dit is waarin ons geroep word om te deel: in myself, in my omstandighede, tussen my en jou.
AMEN