Luister Preek | laai audio af![]()
| Laai preek teks af![]()
|
| TEMA: GEDRA JULLE ALTYD GOED ONDER DIE HEIDENE TEKSGEDEELTE: 1 Petrus 2:11-17 Inleiding Die meeste van ons hou daarvan om te braai. Ons hou van braaivleis ook, maar die hele proses vandat jy die hout begin pak totdat jy daardie heerlike sappige gebraaide vleisie op jou bord kan neerlê, is waaroor dit gaan. Elkeen van ons het sy eie rituele, resepte, voorkeure en afkeure. |
Om te braai het ‘n integrale deel van ons kultuur in Suid-Afrika geword: daar is genoeg vleis en ons mag vuur maak by ons huise. Tog dink ek dat die vrolike braaivleisvure wat (gewoonlik oor naweke) die wêreld hier teen 6uur die middag so ‘n grys-blou kleur gee, uiters gevaarlik kan wees. Dit kan een van die grootste euwels wees!
Hoekom?
Omdat dit juis rondom die braaivleisvure is waar vriende en familie – wanneer die kuiertjie goed aan die gang gekom het – “diep sake” begin praat. En hier praat ons nie net van die manne nie: die vrouens hou al hoe meer net so baie van braai en is net so deel van talle van die gesprekke wat daar plaasvind.
Let ‘n bietjie op waaroor ons gewoonlik gesels. En met watter emosie en vrymoedigheid ons ons diepste hart met mekaar deel. Hoe langer die braai aanhou, hoe slimmer raak party dan natuurlik ook!
Dit begin gewoonlik wanneer daardie neef van jou (wat eintlik altyd stil en teruggetrokke is) sy hart uitstort oor sy span se jongste prestasies (of gebrek daaraan). ‘n (Dikwels) hewige argument ontstaan, waar elke kenner sy besondere insig deel, totdat almal besluit om maar nog steeds van mekaar te verskil.
En dan – dikwels onafwendbaar – verskuif die gesprek na die situasie in ons land. En ons deel ons kommer met mekaar oor hoe gevaarlik en rof dit in ons land gaan. En hoeveel onreg en frustrasie ons tans beleef. En dat ons in ons eie land verdruk word. En ons vel ons oordele. Ons bied ons oplossings. Ons moedig mekaar aan. Ons vertel wat ons by ander gehoor het. Ons deel ons planne met mekaar. Ons raak nostalgies oor die goeie ou dae. En ons droom drome: groot drome van ‘n ander en nuwe lewe: van voorspoed, vrede en vryheid...
En ons kinders luister grootoog. En hulle sien die emosie waarmee ons praat. En hulle sien hoe ons optree wanneer ons later daardie aand huis toe ry en ‘n taxibestuurder skielik doodsveragtend voor ons inswaai. En wanneer ons Maandagmiddag saam met ons 16 jarige by Binnelandse Sake in ‘n ry moet staan vir haar ID. En wanneer die tuinhulp kom sê dat hy alweer die grassnyer se kabel afgesny het.
Die taxibestuurder sien ook ons optrede – al dink ons nie so nie. En die klerk agter die toonbank by Binnelandse Sake ook. En ons tuinhulp ook.
Ja, daardie heerlike braaivleisvuur kan een van die grootste euwels wees!
Want te dikwels is ons nie daar (en dit geld uiteraard vir enige ander plek ook) besig om mekaar op te roep en aan te moedig en te vermaan om te doen wat die Here ons leer nie! So dikwels verlei en mislei ons mekaar – en versterk ons dit in mekaar wat skree teen die lewe wat die Here van ons eis as sy dissipels!
Iemand het eendag gesê (my eie parafrase):
Dit help nie jy probeer vir iemand sê jy is ‘n Christen
wanneer jou optrede kliphard skree van iets anders nie!
1. Gedra julle altyd goed onder die heidene
Petrus skryf hierdie brief aan die gelowiges wat in die noordelike streke van Klein-Asië bly en vervolg en onderdruk word oor hulle geloof. Wat ‘n bemoedigende brief is dit nie! Gaan lees dit ‘n bietjie wanneer jy vanmiddag ‘n rustige uur of wat het.
Kyk ‘n bietjie waarmee troos Petrus sy lesers in hoofstuk 1:
- Julle is deur God self uitgekies om vir ewig aan Hom te behoort
- Hy seën julle oorvloedig met sy genade en vrede
- Hy gee julle nuwe lewe deur die dood en opstanding van ons Here Jesus
- Die ewige heerlikheid in die hemel is iets wat niemand van julle kan wegneem nie
- Dit alles maak dat julle die swaarkry van elke dag met grasie en wysheid kan hanteer
- Wat meer is: swaarkry is genade want dit laat julle geloof nog suiwerder groei
- Dit is oorgenoeg rede om te juig!
En juis daarom, gaan hy voort, kan en moet julle lewe soos ware dissipels van Jesus Christus. Laat sy liefde die kern wees van julle hele lewe!
En dan, in hoofstuk 2, gebruik hy die aangrypende beeld van die pasgebore babatjie wat smag na melk: net só, skryf hy, moet elke dissipel van Jesus Christus smag na die suiwer geestelike melk - sodat ons daarin kan opgroei. Sodat ons totale lewe meer en meer kan wys dat ons werklik aan Hom behoort.
Ons is deel van die geestelike gebou van God, skryf hy: elkeen van Jesus se dissipels is soos ‘n lewende steen wat waardig gemaak is en ingemessel is in die lewende kerk van Christus. Saam met Hom as die hoeksteen van hierdie kerk, het ons ‘n groot en belangrike taak terwyl ons nog op aarde lewe: of dit goed gaan met ons, of ons onderdruk en te na gekom word, wat ookal ons omstandighede – ons moet God eer, ons moet in alles uitbasuin:
Jesus het my gered!
Hy het my nuut gemaak!
Ek lewe net vir Hom!
Kyk hoe loof en prys en dank ek Hom!
Julle kan my maar onderdruk net soos julle wil!
Julle kan my maar te na kom net soos julle wil!
Julle kan onregverdig teenoor my wees!
Julle kan my vryheid wegvat!
Julle kan my maar vals beskuldig!
Ek – en my hele lewe – behoort aan Jesus Christus!
Hoor my woorde!
Sien my dade!
Ek behoort aan Hom!
Kom saam met my op hierdie onbeskryflike pad!
Is dit wat gebeur elke keer wanneer jy terugkom van ‘n braai saam met jou vriende en familie?
Is dit waartoe ons mekaar oproep en aanmoedig?
2. Lewe voorbeeldig dat hulle dit kan sien
Wat ‘n wonderlike geleentheid het ons nie om - juis in hierdie tye waarin dinge vir ons al hoe donkerder begin lyk – die lig van die evangelie helder te laat brand nie! Lig maak ‘n baie groter impak wanneer dit donker is, nie waar nie?
Moenie bang of moedeloos raak wanneer die donker al dikker op ons toesak nie. Sien dit as ‘n geleentheid om ‘n al groter wordende verskil te kan maak. En moenie maar net praat nie: wys dit met alles wat jy doen!
Dis so maklik om ook maar te laat gaan (soos Petrus dit noem in 1Petrus 2:11: ”...om aan jou sinlike begeertes of natuurlike geneigdheid toe te gee...”):
“Ag wat, almal doen dit. Ek kan ook maar...
Ek gaan ook maar ‘n kans vat en helder oordag oorry by die stopteken.
Ek gaan ook maar daardie koevertjie onder die tafel deur vat.
Die regering en die polisie kry nie eens hulle eie mense vasgevat nie: hoe sal hulle my vang?”
Maar Petrus waarsku (1Petrus 2:12):
Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
Het ons Here Jesus nie dieselfde gedoen nie?
Het hulle nie ook dieselfde met Hom gedoen nie?
Hoe is daar nie van Hom kwaadgepraat nie!
Hoe is Hy nie as ‘n misdadiger valslik beskuldig en met skreiende onreg behandel nie!
En hoe het Hy nie met sy hele lewe gewys – dat hulle duidelik kon sien hoe liefde en waarheid sy lewe beheers nie!
Almal moet kan sien wie jy is en aan Wie jy behoort: die taxibestuurder, die klerk agter die toonbank by Binnelandse Sake, jou tuinhulp, jou vriende, jou familie, jou vrou, jou kinders...
In vers 15 skryf Petrus:
Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.
Paulus skryf vir die gemeente in Rome (hoofstuk 12:21) – wat net so swaargekry het onder hulle heidense heersers:
Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie...
Oorwin die kwaad deur die goeie!
3. Laat God verheerlik word
Die kwaad kan nie vir ewig aanhou nie. Maar die goeie kan en sal – want Jesus het alles klaar volbring. Wat ek en jy hier en nou doen bevestig dit en roep dit uit – ten spyte van ‘n wêreld wat al donkerder begin lyk. Gedra jou altyd goed. Doen dit doelbewus en sonder om te huiwer – sodat almal dit kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
Want dit is immers waarheen ons oppad is: die finale dag van afrekening. En ons staan nie in angs en bewing voor hierdie dag nie. Ons probeer nie om te keer dat hierdie dag aanbreek nie: ons kan nie wag nie! Ons weet wat hierdie dag vir my en jou inhou: dis die dag wat die almagtige en regverdige Regter van die heelal vir my en jou sê:
“Ek ken jou beter as wat jy jouself ken.
Ek het jou nog altyd innig liefgehad.
Ek het jou immers uitgekies nog voor die wêreld geskep is.
Ook vir jou het my Seun sy lewe gegee.
Kom in in my heerlikheid!”
Dis die dag wat almal voor die troon van ons hemelse Vader sal buig. Dis die dag wat almal finaal die waarheid sal erken: Hy is die Heerser van die heelal. Daardie dag sal die begin wees van die lofsange tot sy eer – wat nooit weer sal ophou nie!
Maar dit sal ook ‘n verskriklike dag wees vir hulle wat argeloos en sonder ophou die Here se hand van liefde wegklap. Ja, die tyd is min. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word in die Here se koninkryk. En hierdie finale dag kom!
Nie ‘n smalende “Ons het julle mos gesê!” nie, maar ‘n hartseer kreet sal daardie dag uit ons monde en ons harte kom – vir elkeen wat ten spyte van ons volgehoue verkondiging nie wou luister en nie wou bekeer nie...
Slot
Die naweek wat kom (of een of ander tyd in die toekoms), gaan baie van ons weer heerlik saam braai.
Wat gaan hierdie keer die gevolg wees van julle saamkuier?
Amen.