Luister Preek | ![]()
| Laai audio af![]()
|

Geloof se aktiewe óóp wees
1. Alles is onseker
Niks in die lewe is vas nie. Niks in die wêreld is vas nie. Alles verander. Alles gaan verby. So aan die begin van die jaar tref dié tydelikheid van alles mens mos meer as gewoonlik. 2012 gaan nooit weer daar wees nie, met sy goeie oomblikke, en met sy slegte oomblikke. Met die stadium in jou lewe waar jy tóé was. Dit gaan nooit weer daar wees nie. En in die jaar wat voorlê gaan baie dinge ook verander – selfs radikaal verander.
Party mense reageer op die onsekerheid deur alles te wil beheer. Hulle het ʼn houding van: ek weet die lewe is onseker, maar ek gaan my bes probeer om dit so seker as moontlik te maak. Dit is ʼn houding van aktiwiteit. Ek gaan dit en dit en dit doen. Ek gaan hard werk, ek gaan so goed as moontlik in beheer probeer wees. Maar daar sit ʼn stuk oordrewe selfvertroue in so ʼn houding: as ek net hard genoeg werk gaan ek vir my sekuriteit uitkerf uit die onsekerheid uit. Miskien sou ʼn mens hierdie houding kon voorstel met ʼn prentjie van hande wat so vasgryp en vasdruk, asof dit die vloeibaarheid probeer vaspen.
En hierdie houding kan ook by ons as gelowiges wees, hoor. Jy kry dit ook in die kerk. Asof al die verantwoordelikheid by my as gelowige en by ons as kerk rus; asof al die aktiwiteit by ons begin. “Vanjaar moet ons dien. Vanjaar moet ons ons jaartema realiseer; vanjaar moet ons getuig, mense bereik, die wêreld omkeer ter wille van Christus. Maar daar is iets wat pla: dit begin by ons, dit begin by my. Wie is eintlik in die middelpunt hier?
Dis die een manier om op die onsekerheid te reageer. Deur met jou eie harde werk en aktiwiteit die onsekerheid te probeer vaspen. Maar dan is daar ook ʼn ander reaksie. En dit is om van die onsekerheid te vergeet. Jy probeer die onsekerheid ignoreer. Jy raak so opgeslurp in die dinge van elke dag dat jy vergeet van die lewe se onsekerheid en verandering. Dis net werk en skooltoe gaan en nuwe projekte, en en en. En tussendeur leef mens vir naweke, of die volgende vakansie of die volgende lekker aksie wat jy beplan. Maar die vermaak help jou ook om maar eintlik te vergeet van die lewe. En as jy jou weer kom kry is dit maar weer later in die jaar, en partykeer skrik jy so half en sê “kyk net hoe vinnig gaan die tyd verby.” Maar dan word jy maar weer meegesleur die stroom van dinge. Miskien sou mens hierdie houding kon beskryf met die prentjie van skouers optrek en hande oopgegooi: “Ek kan tog niks doen nie, ek laat die lewe maar met my gebeur. Al wat ek doen is om besig te wees met die klomp goeters wat my aandag nou in beslag neem. Ek dink eintlik glad nie oor die lewe nie.
En weet u, iets van hierdie houding kan ʼn mens ook in die kerk en in ons lewe as gelowiges kry. Asof my geloofslewe elke keer oor iets nuuts moet gaan wat my aandag in beslag neem. Ek probeer ʼn nuwe Bybelstudie soos wat ek ʼn nuwe dieet probeer: kyk of dit my besig hou vir ʼn rukkie en vir my werk. Of wanneer ons as kerk in ons jaarbeplanning dink: hoe kan ons nou weer nuwe goed doen vanjaar, net om die mense se aandag te hou. Om hulle geïnteresseerd te hou. Anders dryf hulle weg. Hande wat oopgegooi word: ek dryf maar saam. Wat vermaak kom nou weer verby wat my aandag kan aftrek?
Twee reaksies op die onsekerheid van die lewe: óf jy probeer met jou aktiwiteit alles beheer, “of jy laat maar los, jy is passief en laat jou meesleur deur die stroom van die tyd.
2. Psalm 90
As mens nou na Psalm 90 luister, dan kry jy ook sterk die ervaring dat ons mense se lewe broos is en verbygaan. En hier in Psalm 90 kom die tydelikheid van die lewe juis sterk na vore wanneer dit langs God se ewigheid neergesit word. “Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! U laat die mens sterwe: U sê net: “word weer stof!’ Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. U maak ʼn einde aan ʼn mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die more afgesny word: in die more is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en verdroog.” Aan die een kant God se ewigheid en almag, aan die anderkant ons mense se eindigheid.
En behalwe ons tydelikheid is daar ook ander ervarings van ons mense se broosheid in die psalm: ons sukkel om die goeie te doen. Ons lewe gaan maklik verkeerd. Daarteenoor is net God goed en regverdig. En in ons lewe hier op aarde kry ons seer en ons kry swaar. Daarteenoor is God die volheid van lewe. So in hierdie psalm is ons by die ervaring dat alles verander. Niks is vas nie; alles gaan verby. Maar nou die belangrike: wat is die reaksie hierop?
3. God se ewigheid in ons tydelikheid
Kyk mooi, in die psalm is die reaksie nie ʼn houding van aktiwiteit en van alles self probeer vaspen nie. Dit is ook nie ʼn houding van passiwiteit en van jouself maar laat meesleur nie. In die psalm hoor mens die hoop dat God se ewigheid in hierdie tydelikheid van ons herkenbaar sal word. “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom...” “Ontferm u tog oor ons...” “Laat u werk vir ons duidelik word...” “Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe...” In hierdie psalm is daar ʼn hoop dat God se teenwoordigheid in hierdie brose lewe van ons sal kan sigbaar word, en dat ons dit ook sal kan beleef. Ja, ons is eindig, ja ons is broos. Maar God se ewigheid staan nie net langsaan dit nie, God se ewigheid en almag kom binne hierdie wêreld van ons in, en maak dat daar ʼn dieper werklikheid is.
“Laat u werk vir ons duidelik word...” En dit het vir ons duidelik geword. Die seun van God, God self kom word ʼn eindige, brose mens. Hy kom deel in ons broosheid, in ons swaar, Hy kom ly onder ons sondigheid tot in die dood aan die kruis. Tot in die diepste punt van die dood is daar nie ʼn plek wat sonder God is nie. God is by ons. En in Jesus Christus se opstanding uit die dood word die ewige lewe as geskenk aan ons gegee. Die ewigheid kom in die tydelikheid in as ʼn geskenk. Ons kan daaruit lewe deur die krag van die Heilige Gees.
Hoe doen ʼn mens dit? Hoe lewe jy in hierdie lewe vanuit die ewige lewe wat Jesus Christus hier ingebring het? Hoe leef ons hierdie lewe vanjaar? Hoe moet ons houding wees? Dit is nie net aktiwiteit nie. Die inisiatief is nie by ons nie. Die inisiatief is by Jesus Christus en by die Heilige Gees wat Hom aan ons bedien. Maar ons kan ook nie maar net passief en bewusteloos wees nie. Ons is deel van wat gebeur. Ons houding, soos wat ons dit ook in die psalm hoor, is een van aktiewe oop wees. Ek moet my, ons moet ons bewustelik oop stel sodat God sy werk in my en deur my kan doen. Hy is die aktiewe een. Ook hierdie jaar. Maar ek is nie totaal passief nie. Deur die Heilige Gees moet ek bewustelik oop wees vir God se werk in my en deur my. Ek bring my bewustelik op die plek waar God werk. En dit is tog eintlik ʼn biddende lewenshouding, is dit nie, broers en susters. “Laat u werk vir ons duidelik word...” “Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe...” Dit is gebed! Om bewustelik oop te wees dat Christus al hoe meer in my en deur my gestalte kry hierdie jaar. Miskien sou mens kon sê dit is hande wat nie vasgryp en vasdruk nie, maar dit is ook hande wat nie net oopgegooi is en alles laat los nie. Dit is biddende hande: aktief oop sodat God se werk kan gebeur, en ek deel daarvan kan wees. Kan jy met hierdie houding vanjaar ingaan? Kan ons hierdie houding al hoe meer inoefen vanjaar?
AMEN