Luister preek | Laai preek af | ![]()
|
ELKE DAG SE LEWE
1. Die gewone lewe van elke dag
Mens sou maklik kon dink dat Johannes se evangelie aan die einde van die vorige hoofstuk –hoofstuk 20 - moes eindig. Ek bedoel, dis die regte plek! Dit is hierdie groot hoogtepunt: Jesus het opgestaan uit die dood; Hy verskyn aan sy dissipels terwyl hulle agter geslote deure bymekaar is; Hy blaas oor hulle as simbool van die Heilige Gees wat Hy gee, en dan stuur Hy hulle uit. Agt dae later verskyn Jesus weer aan hulle terwyl Tomas, wat die vorige keer nie daar was nie, ook nou by is. “Tomas, steek jou vingers in die gate in my hande, steek jou hand in my sy en glo; moenie twyfel nie.” En dan eindig die hoofstuk met Tomas se geloofsbelydenis: “My Here en my God.” Dit is waartoe die hele Johannes evangelie aanloop: om op daardie punt te kom waar ons bely dat Jesus die Christus is; en om saam met Tomas te sê “My Here en my God!”
2. Die vreemdeling op die strand
En hier is die goeie nuus vir my en vir jou: in hierdie lewe van elke dag, met sy schlepp en sy frustrasies, met sy ops en sy afs is daar ʼn dieper geheim. Onthou, die dissipels werk die hele nag en hulle vang nie een vis nie. En is dit nie maar baiekeer hoe ons lewe ook is nie? Jy werk en jy werk en baiekeer voel dit asof dit alles verniet is. Jy praat en jy praat, maar dit help nie. Die lewe van elke dag is maar vol frustrasies. Maar hoor nou die goeie nuus: daar is ʼn dieper geheim aan die lewe – ook die lewe van elke dag.
Teen dagbreek is Petrus-hulle nie ver van die strand af nie in hulle bootjie. Skielik word hulle bewus van ʼn vreemdeling wat daar staan. Hy roep na hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” Die vreemdeling weet van daardie hongerte wat kom saam met mens-wees. Daardie verlange om versadig te word; vervul te word. Hy weet ʼn mens is van verlange aanmekaar gesit. “Gooi die net aan die anderkant uit,” roep hy vir hulle. En dit is wanneer hulle sy woorde gehoorsaam dat hulle Hom ook herken. Dit is die Here! Dit is Jesus Christus self wat hier by hulle is! Hy gee vir hulle oorvloed – daar is so baie vis!
Hierdie is die werklikheid vir ons om in ons omstandighede te ontdek, broers en susters. Jesus Christus, die Een vir wie ek sê “My Here en my God” is nie weg uit my alledaagse lewe nie. Op ʼn wonderlike manier is Hy hier. Nie op dieselfde manier as voor sy opstanding uit die dood nie, maar beslis nie minder werklik nie. Om die waarheid te sê Jesus Christus is nou nog meer werklik hier. Want met sy oorwinning oor die dood het Hy die sleutel geword wat alles bymekaar hou. Hy self is die diepste geheim van my omstandighede. En ek? My roeping is om Hom in hierdie gewone lewe van elke dag te herken. Om te luister hoe hy my roep, en om sy teenwoordigheid te onderskei. Weet jy waarvan ek praat? Daardie herkenning: dit is die Here! Hy self is hier – hier in my oopplan kantoor. Hier waar ek op my bed lê. Hier waar ek voor my rekenaar sit. Hier in my frustrasies.
Die evangelie van Johannes eindig nie met ʼn beskrywing van Jesus se hemelvaart nie, en miskien is dit tog betekenisvol. Die laaste woorde van Jesus aan Petrus, aan die einde van die hoofstuk, wat ons nie saam gelees het nie, is “volg my!” Volg net vir my. Dis asof Johannes se laaste hoofstuk oorloop in jou en my lewe van elke dag in. Die lewe van visvang, van biologie vraestelle skryf, van om ʼn huisgesin te hê, van om skool toe te gaan... Jy wat jou geloof bely, en wat sê: “My Here en my God” – luister nou fyn na my stem in jou alledaagse lewe, sodat jy my teenwoordigheid ook hier kan onderskei, en jou net op die regte plek uitgooi. Volg My in jou lewe van elke dag.
3. Die besondere in die alledaagse
En weet u wat, broers en susters? Die Here help ons ook om Hom, die wonderlike, misterieuse Een, in ons lewe van elke dag te onderskei. Hoe so? Wel, in die eerste plek gee die Here ons vir mekaar. Ons is saam met ander mense volgelinge van Jesus. Daar op die see van Galilea is die dissipels sáám in die bootjie. En die boot is ʼn simbool vir die kerk. Ons is vir mekaar gegee om saam met mekaar die geloofspad te stap, en om ander mense te nooi om deel hiervan te word. En ek kan, ek moet my alledaagse lewe met my broers en susters deel om saam met hulle onder leiding van die Heilige Gees die Here se aanwesigheid hier en nou te onderskei.
In die tweede plek het die Here verskillende gawes van die Heilige Gees aan ons gegee. Maar dit is alles gawes wat moet dien dat Jesus Christus herken word en in die middelpunt staan. Dink bietjie daaroor: die dissipel vir wie Jesus baie lief was is die een wat Hom herken, en dan uitroep: Dit is die Here! Maar dan is Petrus weer die een wat oorgaan tot aksie. Hy pluk sy klere aan, spring uit die boot en beur na Jesus toe. En uiteindelik kom die hele boot en al die vis by die Here aan. Maar in hierdie gedeelte word duidelik ʼn onderskeid gemaak tussen Petrus en die geliefde dissipel. En so is dit ook by ons waar ons saam met mekaar in die hier en die nou lewe. Party herken meer, party het die insig, ander het die aksie en die leierskap. Maar ons het almal mekaar nodig; ons moet almal saamgegroepeer wees rondom Jesus self wat al hoe meer sigbaar word.
En dan, ten slotte, het ons die maaltyd. Want wanneer die dissipels daar op die strand bymekaar is, is daar eintlik klaar vis wat braai op ʼn vuurtjie, en daar is brood. En Jesus neem dit, en gee dit vir hulle. En so is daardie maaltyd ʼn fokus en ʼn viering daarvan dat ons verlange en ons honger alleen deur Jesus Christus self versadig word. Wanneer ons deel het aan sy liggaam; een is met Hom. En so gaan die geloofsbelydenis met die maaltyd gepaard. En so word ons lewe van elke dag altyd weer gefokus in hierdie oomblikke wanneer ons as Jesus se volgelinge in die erediens en in die maaltyd Hom ontmoet en deur Hom gevoed word. Om dan weer uit te gaan na elke dag se lewe toe. Vir jou wat vir Jesus sê “My Here en my God,” vir jou sê Jesus: “Volg my in jou lewe van elke dag.”
AMEN