Luister preek | Laai preek teks af![]()
| Laai audio af![]()
|
| GOEIE Vrydag – hoekom is dit nou eintlik so ’n belangrike dag? En hoekom is dit GOEIE Vrydag?! Is dit nie die dag wat Jesus doodgegaan het nie? Is dit nie die dag waarop Jesus gely het nie? Moet dit nie eerder HARTSEER Vrydag, PYNLIKE Vrydag, ONSEKER Vrydag wees nie? Wel, kom ons hoor van Jesus self die aand voor die tyd. Die Donderdagaand voor sy kruisiging, wanneer Jesus saam met sy dissipels Paasfees vier, net voor hulle eet, met die instelling van die Nagmaal, sê Jesus in Lukas 22:18: "Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koningsheerskappy van God ten volle gekom het nie." |
17Jesus het self die dwarsbalk van die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel. 19Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”
20Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks. 21Die leierpriesters van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: Die Koning van die Jode nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die Koning van die Jode.’”
22Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”
23Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy boklere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. 24Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot wie s’n dit sal wees.”
Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:
“Hulle het my boklere
onder mekaar verdeel
en oor my onderkleed
het hulle die lot gewerp.”
Tot sover wat die soldate gedoen het.
25Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, daar is u seun.” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.
28Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.
Johannes 19:28-30
28Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.
WOW!!!! Jesus het Donderdagaand gesê dat Hy eers weer wyn sal drink as God se koninkryk ten volle gekom het en nou, net die volgende dag, terwyl Hy aan die kruis hang, VOOR Hy dood is, drink Hy wyn!!!
Hoe moet ons dit verstaan? Wel, wat Hy gesê het, het gebeur – die koningsheerskappy het ten volle gekom! Dis al hier! Kyk na vers 28: “terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is” à DIT IS REEDS AFGEHANDEL! Dit is KLAAR!
Die bevrydingsfees breek nou aan! Paasfees word nou eers werklik Paasfees!!
Aan die kruis – VOOR SY DOOD – breek die heerskappy van God aan!
Kom ons kyk hoe dit gebeur:
- Terwyl Jesus aan die kruis hang, word dit vir 3 ure donker in die middel van die dag (Mat 27:45) à die hele skepping hou asem op. Wat gaan gebeur?
- Dan, na 3 ure roep Hy uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mat 27:46) à Jesus is in die hel...
- Maar onmiddelik word dit weer lig! (Mat 27:45) à Het Jesus gewen? Is dit wat die skepping sê?
- Dan skeur die groot gordyn in die tempel (Mat 27:51), die gordyn wat die mense van God weggehou het, die gordyn wat keer dat mense by God kan kom. à Is die skeiding weggeneem?
- Meer nog – grafte gaan oop en mense word lewendig! (Mat 27:52) Die dood is oorwin! Die verlossing het gekom! Jesus het gewen!
- Die skepping word lig, God is by die mens, die dood is oorwin – ja, Jesus kan maar wyn drink want die koninkryk van God het aangebreek! Nou al, voor sy dood!
- Daarom kan Hy sê: “Dit is nou afgehandel!” “Dit is volbring!” Die koningsheerskappy van God het gekom en Jesus is die eerste om dit te beleef
- Daarom kan Hy kies wat met Hom gebeur met sy dood – “Vader, in U hande gee ek my Gees oor!” (Luk 23:46) Jesus gaan nie hel toe of duiwel toe nie – Hy gaan na sy Vader toe! Hy het klaar gewen! Die oorwinning het reeds aangebreek! Die uitkoms is nie onseker of nog in die weegskaal nie – die koninkryk is hier!
Maar wat beteken dit vir my?
Veral 2 dinge:
As ek in Jesus glo, dan:
- Is dit vir MY volbring – my sondes is betaal, my oorwinning is behaal, my dood is oorwin.
- Is daar geen skeiding meet tussen my en God nie. Ek kan enige tyd op enige plek na God toe gaan. Meer nog, Hy is in my! Ek is nou sy tempel!
BEELD:
1. skryf sonde op bord of bak – dis wat ek doen
2. was af met wyn (vergifnis) – Jesus se bloed was die sonde af
3. los wyn in bak – meer nog, Jesus bly in my, sy bloed bly in my
4. nou kan jy nie meer op bord skryf nie, want die bloed keer dat dit vassit.
5. Jy skryf nog (sondig), maar die sonde sit nie meer aan jou vas nie (Christus is IN jou!) (Kol 1:27; Rom 8:10; Galasiërs 2:20)
6. Moenie meer fokus op sonde nie (skryf op jou bord) - los pen en gebruik jou hande om bak met Jesus Christus se bloed te dra
Dis die boodskap van Goeie Vrydag! Dis GOEIE Vrydag ...
... want Jesus is goed
... want Hy maak my goed deur sy bloed
... want ek leef goed vir Hom en deur Hom!
Ek is skoongewas, ek is gered, ek is vergewe. Kom ons hou op om daaroor te bekommer en kom ons gaan dra Jesus se bloed en wat dit beteken in die wêreld in!
AMEN.
(VIDEO: JESUS OP TWITTER, FOLLOW JESUS) - http://vimeo.com/22305133)