Hemelvaart: verskyning, nie verdwyning nie!
1. Paasverbystering
Dis Paassondag – die graf is leeg. Jesus is nie meer in die graf nie! Tog, in die gedeelte waarna ons nou net geluister het, is almal vervaard aan die rondskarrel. Toe Maria Magdalena sien dat die klip voor die graf weg gerol is, hardloop sy na die dissipels toe. Petrus en die dissipel vir wie Jesus baie lief was (waarskynlik Johannes) hardloop op hulle beurt na die graf toe. Nadat hulle in die graf ingegaan het en gesien het dat Jesus nie meer daar is nie, gaan hulle so half verdwaas weer weg. Maria kyk in die graf in, huil en staan dan verwese buite rond. Dit lyk asof mens van ʼn paasverbystering kan praat – almal is aan die rondhardloop en weet nie mooi wat aangaan nie. Maria kan die opgestane Jesus nie herken nie, selfs al staan Hy reg agter haar!
2. “Moet my nie vashou nie, want ek het nog nie na die Vader opgevaar nie”
Die eerste woorde wat Jesus vir Maria sê nadat Hy haar geroep het, en sy Hom herken is: “Moenie my vashou nie.” Wat sou dit beteken? Waarom is dit belangrik? Mens kan jou voorstel dat Maria, toe sy Hom herken het, op dieselfde manier teenoor Jesus wou optree as voor sy dood en opstanding. Dalk wou sy sy voete vasgryp as ʼn uitdrukking van blydskap. Maar Jesus sê: “moenie my vashou nie, want ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie.” Wat Jesus hier sê is dat ons nie meer op dieselfde manier oor Hom kan dink as voor sy dood en opstanding nie. En dit is juis Jesus Christus se hemelvaart wat ons moet laat verstaan dat ʼn totaal nuwe tyd aangebreek het met sy dood en opstanding. Ons moet verstaan: Jesus se dood en opstanding is die middelpunt van die wêreldgeskiedenis. Dis die draaipunt van alles. Dit het alles verander. Die tyd van skaduwees het tot ʼn einde gekom. Die eindtyd het nou aangebreek. En Jesus se hemelvaart sê: moenie langer oor hierdie lewe van my net in menslike terme dink nie. Nou is hierdie lewe van my – hierdie lewe wat ek as die Seun van God hier op aarde gelewe het – nou is hierdie lewe van my vir almal en vir alle tye. Dink aan wat Paulus hieroor skryf in Efesiërs 4:10 “Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.” Die een offer van Jesus se lewe is nou vir alle tye en alle plekke. Die ewige nóú van Jesus se dood en opstanding het die manier waarop ons oor tyd en oor sy aanwesigheid dink heeltemal verander. Ons kan nie aan hom vashou asof dit nie gebeur het nie.
Die punt is, broers en susters, die hemelvaart beteken nie dat Jesus weg gegaan het nie. Hy is nie op ʼn ander plek nie – asof die hemel iewers anders is nie. Die hemelvaart beteken dat die volle betekenis van Jesus se lewe en dood nou oopgebreek word vir die wêreld, en dat ons Hom op ʼn ander manier moet raaksien. Ons kan nie meer oor hom dink op ʼn uiterlike manier, asof sy liggaam dieselfde is as voor sy dood en opstanding nie.
3. gaan sê vir my broers...
Goed, hoe moet ons dan nou Jesus Christus se teenwoordigheid verstaan op grond van sy hemelvaart? Kyk bietjie wat sê Jesus vir Maria: Gaan na my broers toe. En miskien is dit juis belangrik. Wie is Jesus se broers? Dit is sy dissipels. Daardie klein gemeenskappie van mense wat na die uitstorting van die Heilige Gees net groei en groei en deur die wêreld en deur die geskiedenis trek. Jesus se broers is die kerk, en wanneer Jesus vir Maria sê “Moenie aan my vashou nie, maar gaan na my broers toe,” dan leer Hy haar om sy teenwoordigheid in die kerk te onderskei. Die kerk is die manier waarop Jesus aanwesig is in die wêreld na sy hemelvaart. Die kerk ís Jesus Christus se liggaam, en om dit so te sê is nie maar net ʼn metafoor nie! Is die kerk maar net ʼn menslike organisasie? Nee, die kerk is die manier waarop die eindtyd in die geskiedenis van die wêreld aanbreek. Die kerk is die nuwe mens, Jesus Christus, wat hier en nou in ons wêreld aanwesig is – nie afwesig nie!
“Gaan sê vir my broers: Ek vaar op na My Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.” Wat doen die kerk nou in hierdie eindtyd wat aangebreek het? Die kerk gaan na die Vader toe. Ons is in Christus, ons is sy liggaam. In Hom kan ons mense en die hele skepping nou weer doen wat ons altyd bedoel was om te doen: om ons lewe te laat uitmond in die Vader se lewe in. Om ons lewe aan die Vader te gee as lewende en heilige offer. Ons is daar omdat die Vader Hom verlustig in ons; omdat die Vader vreugde vind in ons. Wat ʼn wonder: om in die lewende God self op te gaan... Is die kerk daar vir die wêreld? Ja, die kerk is daar vir die wêreld, maar dit is nie die einddoel nie. En ons kan ook nie daarteen bly vaskyk nie. Die einddoel is dat die hele wêreld uiteindelik as kerk na die Vader toe gaan. As ʼn lewende en heilige offer. En in Jesus se hemelvaart begin hierdie beweging daadwerklik. Dit breek aan.
4. Kyk nuut, dink nuut
So, liewe broers en susters, wat Jesus vir ons hier saam met Maria sê is dat ons Hom nou regtig op ʼn nuwe manier moet raaksien. Ons kan nie oor Hom dink soos voor sy dood en opstanding nie. Maar doen ons nie juis dit nog so baiekeer in die manier waarop ons oor Jesus praat nie? Hoe baiekeer gebruik ons nie die uitdrukking: what would Jesus do, nie. Wat sou Jesus gedoen het as hy hier was? Maar dan sê jy mos eintlik dat hy nie nou hier is nie. Dan dink jy oor hom asof hy maar net daardie selfde menslike liggaam het as voor sy dood wat nou iewers op ʼn ander plek is – in die “hemel.” En ons doen dit ook as ons oor dissipelskap praat. Ons dink oor Jesus asof hy hierdie rabbi is wat in eerste eeuse Palestina rondloop, en ons moet agter hom aanloop. So kom ons bestudeer alles wat hy gedoen het. Maar bly ons nie dan dalk onbewustelik vashou aan hom soos Hy was voor sy dood en opstanding nie? Maar onthou Hy self is nou hier op ‘n wonderlike, nuwe manier. Dit gaan oor wat Hy nou aan die doen is.
So baie keer dink ons dat Jesus ons uitgestuur het, en dat ons nou eintlik op ons eie moet aangaan - soos wat hy gedoen het, ja, maar hy self is eintlik nie hier nie. Weet u, dit is om Jesus te probeer vashou soos hy was. Dan maak ons soos wat Maria Magdalena op daardie opstandingsondag probeer doen het. Dit is om teen die buitekant te bly vaskyk. Christus is dan die een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul!
Die kerk is die viering van Jesus Christus se aanwesigheid in hierdie tyd waarin ons nou leef. Die kerk is daardie beweging van om saam met Jesus in die dood af te gaan, saam met Hom op te staan uit die dood, en saam met hom na die Vader te gaan. Daarom moet ons nie die kerk afmaak nie, broers en susters. Daarom moet ons nie die kerk platslaan, en kyk hoe min kerk ons kan hê, asof alles daar buite in die wêreld gebeur nie. Dit gaan nie maar net oor individuele gelowiges wat “daar buite” gebare van liefde uitleef nie. Natuurlik is dit ook belangrik. Maar as dit net dit is, dan kan dit in ʼn paasverbystering ontaard. Almal hardloop rond en doen maar wat hulle dink Jesus sou gedoen het.
As hierdie woorde met jou en met my praat vanaand, broer en suster. As ons kan insien dat daar maniere is waarop ons in ons lewe en in ons wêreld eintlik nog saam met Maria daar buite die graf rondstaan, en nie die opgestane Jesus kan herken nie, word dan weer bewus van die troos en versterking van Jesus se hemelvaart. Hy is nie weg nie; hy is hier in hierdie viering, in die gemeenskap van heiliges. Hy is die aktiewe een. Hy vat ons in Hom na die Vader toe. Dit is waarom ons lewens moet draai. Dit is waarom die hele wêreld moet draai.
AMEN