
Daar was duidelik 2 groepe tydens Jesus se lewe op aarde. Die kerkmense is (Skrifgeleerdes, Fariseers) en die nie kerkmense (Tollenaars en sondaars.
Die gelykenis handel oor 2 seuns wat elkeen verteenwoordiger van ‘n groep mense is. Die ouer broer verteenwoordig die Skrifgeleerdes en Fariseers en die jonger broer, die tollenaars en sondaars. Die twee groepe het voortdurend rondom Jesus bymekaargekom om na sy predking te luister. Maar dit was nie sonder probleme nie. Die teenwoordigheid van die Tollenaars en sondaar was ‘n groot irritasie vir die kerkleiers. In so ‘n mate dat hulle Jesus daarvoor verwyt en afgekraak het. “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle”. (Luk 15:1,2)
Tragies, telkens lees ons in die evangelies waar:
Jesus ‘n “kerkleier” en ‘n “uit die kerk mens” agv immorele optrede ontmoet (Luk 7),
of ‘n “kerkleier” en ‘n “uit die kerk mens” agv rassisme, (Joh 3-4),
of ‘n kerkleier en ‘n uit die kerk mens” agv poletieke (Luk 19) ontmoet,
is dit die “uit die kerkmens” wat telkens met Jesus “connect” verhoudingsbou…
Dit was so opvallend dat Jesus in Matteus 21:31 opmerk het: “Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in”.
Konstant het Jesus se prediking die kerkleiers van daardie tyd die hoenders in gejaag, terwyl dit die ongelowiges, die stukkendes, die uitgeworpenes, die wat deur die kerk afgeskryf is, soos ‘n magneet na Hom aangetrek het. Telkens vind jy die mense rondom Jesus. Jy sien Jesus het tyd met hulle gespandeer. Hy het verhoudings met hulle gebou.
Kom ons spieël onsself vir ‘n paar oomblikke hierin.
Wie is die mense wat ons na ons kerk aantrek? Wie is die mense wat jy hierheen nooi? Kan vreemdelinge wat van buite inkom sê:
Ek hoor die stem van Jesus Christus hier…
Ek ervaar die liefde en die warmte van die Heilige Gees hier..
Ek kan voel dat die mense hier vir my omgee…
Of is ons prediking ons kultuur, ons belewenis en uitlewing van ons godsdiens van so aard dat hulle totaal ontuis voel…?
Is hier dalk ‘n houding van “ek is beter as jy”,?
Of gaan dit vir ons oor ‘n kultuur, ‘n gewoonte, wat ek instand wil hou in plaas van ‘n lewende verhouding met God in Jesus Christus..?
Kom ons kyk na die gelykenis.
Dit begin met ‘n totaal misplaaste versoek: Die Jongste seun vra aan sy pa: gee my die deel van die besittings wat my toekom?.
Die oorspronklik hoorders se monde moes oopgeval het toe hulle die versoek hoor. Kan dit wees? Die arrogansie, die vermetelheid, die ondankbaarheid… Kom ek verduidelik vir u
Die gebruik daardie tyd was dat die oudste seun ‘n dubbele deel sou kry van wat die res van die erfgename sou erf. Maar, niemand, geen kind erf voordat die ouer gesterf het nie. Dit is nog nie sy eiendom nie.
Wat die jongman hier doen, was totaal ongehoord. Hy het behoefte aan sy pa se goed maar nie aan sy pa nie. Hy wens sy pa dood. Die erfporsie hou hom in verbinding met sy pa en hy wil uit hierdie verhouding uit. Daarom se hy: “Gee wat myne is, ek is uit” Ek wil nie meer hier wees nie.
Die normale reaksie in die patriargale sisteem wat daardie tyd in die Midde-Ooste geheers het,. sou wees – dat die pa die seun onmiddellik uit die familie sou weggejaag. Hy sou fisiese geweld gebruik het om hom weg te dryf. Daar is geweldige respek, eerbied van kinders teenoor ouers verwag. Hierdie jongman het die ongehoorde gedoen.
Die pa se reaksie het die hoorders stom gelaat. hy het die eiendom verdeel. Die woord in die oorspronklike taal vir eiendom beteken “lewe”. Hy het die lewe tussen hulle verdeel.
Hoe so?
Destyds het die mense se rykdom meestal in landbougrond en eiendom wat hul besit het, gelê.. Dit het ook hul staanplek in die lewe bepaal. Hulle het met die grond waarop hul geboer het geidentifiseer. Hulle is dikwels genoem na die plek waar hul gebly het. Dit was hul lewe.
Om aan hierdie versoek te voldoen, moes die pa heel moontlik ‘n derde van sy landbougrond of eiendom verkoop. ‘n Derde van dit waarmee hy sy inkomste verdien, en wat sy staan plek in die lewe bepaal moes hy prysgee om aan die versoek te voldoen. Hy moes ‘n derde van “sy lewe” uitskeur”
Daarby was verwerping sekerlik die grootste pyn. Sy seun wat sy geld wil hê maar nie vir hom nie. Heelwat ouers kan hiermee identifiseer. ‘n Kind wat jou geld vra, maar eintlik niks met jou te doen wil hê nie.
Gewoonlik is ‘n mens se reaksie dan om die mens wat jou verwerp in jou gedagtes of uit te skryf, of af te skryf, of te minimaliseer of selfs net te ignoreer. Jy doen dit om geestelike pyn te vermy. Sommige voeg die daad by die gedagte en daar kom vyandskap of ‘n raak nie – smaak nie- roer nie aan beleid teenoor mekaar.
In berading hoor jy dikwels van ouers en kinders wat nie eers met mekaar praat nie.
Ons lees niks daarvan by die pa nie. In stilte verduur hy die pyn, want sy liefde vir sy seun is so groot.
Is dit nie hoe ons dikwels met God werk nie?
Ons wil sy seëninge hê. Hy moet ons paaie voorspoedig maak. Hy moet die onheil van ons afweer… Hy moet ons projekte laat slaag. Ons besighede laat floreer..., vir ons kinders sorg…, maar ons wil hom nie dien nie. Ja, op ons eie terme maar nie soos Hy vra nie.
Ons wil hom nie erken as God op die troon van ons lewens nie. Nee, dit is te beperkend. Dit maak dat ek nie die lewe kan geniet soos ek wil nie. Of dit vereis dat ek self van die troon van my lewe moet klim om vir Hom plek te maak…
God, ons hemelse Vader, se liefde gaan alle verstand te bowe. Dat dit met ons uithou is ongelooflik.
Die spreekwoord lui: Erfgeld is swerfgeld. Die jongman het nie gespaar of ‘n wêreldse plesier gemis nie. Na hy al die geld uitgejol het, het ‘n kwaai hongersnood die land getref en ook hy het gebrek gely. Hy het homself as varkwagter uitgehuur om ‘n honger loon te verdien.
Of dit die hongerpyne was, of hy gesien het hoe lekker smul die varke, en niemand gee vir hom eers van die vark kos om tee en nie, weet ek nie. Maar hy het besef: Fout, hy het die grootste fout van sy lewe begaan. Hy het onmiddellik begin planne maak. Hy sal na sy pa teruggaan, sy fout erken dat sy optrede sonde teen God en sy pa was, dat hy nie meer werd is om ‘n seun genoem te word nie. Dan sy versoek: Of sy pa hom nie as een van die dagloners sal behandel nie.
Slawe en knegte het op die landgoed saam met die eienaar gewoon. Dagloners is mense wat nie op die landgoed gewoon het nie. Hulle was trekarbeiders of vakmanne van buite, wat seisoenaal per dag gehuur is om spesifieke take te kom verrig.
In sy hart voel die jongste seun, hy het sy pa, die familie, die gemeenskap so ‘n groot skande aangedoen – dat wat hulle aan betref, bestaan hy nie meer nie. Hy is dood. Die Rabbies het destyds geleer as jy die gemeenskapsreëls oortree het, was ‘n verskoning nie genoeg nie. Jy moes vergoed.
So wat die seun vir sy pa sê is: Pa, ek weet, ek het nie die reg om terug in die familie te kom nie of ontvang te word nie. Gee my asseblief ‘n kans dat ek as huurling/trekarbeider ‘n werk kan doen, dalk ‘n ambag kan aanleer om my skuld te begin terug betaal.
Daar by die varke het hy sy pleitrede gerepeteer todat hy gevoel het – dit is nou tyd om op te pak en sy pa te konfronteer.
Hy was nog ver van die huis toe die pa hom opgemerk het en tegemoet gehardloop het. Totaal buitengewone optrede vir die kultuur van daardie tyd. Die patriarg (hoof van die familie) was ‘n waardige persoon, wat nie hardloop nie. Kinders, jongmense, vrouens – kon hardloop. Maar geen patriarg sou sou klere optel, sy bene ontbloot om te kan hardloop. Patriarge het ook nie maklik emosie gewys nie.l
Hierdie Patriarg, het gehardloop, sy seun innig jammer gekry, hom omhels en gesoen! (Vertoon teks v 20b) kan ook vertaal – met soene bedek.
Toe het die seun sy besigheidsplan uitgerol. Maar die pa het hom totaal onkant gevang. Want hy luister nie verder nie… inteendeel hy onderbreek hom deur die werksmense te beveel “Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! “
Die beste klere… sou die pa se eie beste klere wees. Verseker ‘n teken van herstelde posisie in die familie. Wat die pa sê is: Waarvan praat jy my seun? Daar is nie ‘n manier wat ek wag tot jy jou skuld afbetaal het nie. Jy gaan nie werk om jou posisie in die familie terug te verdien nie. Ek neem jou onvoorwaardelik terug.
Sy volgende opdrag: Slag die vetgemaakte kalf. Ons vier fees! Vleis was nie deel van die algene daaglikse diet nie. Dit is doodgewoon te duur. Daar was net vleis by uitsonderlike feeste. En dan is die hele dorpie of groep mense op die landgoed genooi. En die duurste vleis van dié tyd, was die vetgemaakte kalf…
En hulle vier fees!!!
Die pa moes nog die ouer broer in sy giftig geestelike toestand hanteer. U onthou dat die ouer broer verteenwoordiger van die Fariseers, Skrifgeleerdes, kerkleiers van daardie tyd was. Hy was nie deel van die fees nie. Nukkerig het hy dikbek daar eenkant buite gestaan en geweier om in te kom.
Hulle is uitgedaag met die boodskap: God se liefde en vergifnis kan sonde vergewe en die sondaar in sy plek herstel. Dit maak nie saak watter sonde of hoe groot, lelik die sonde is nie. Die jonger broer het geweet daar is oorgenoeg kos in sy pa se huis maar hy het ontdek daar is ook groter/ meer genade, soveel meer.
Hoor jy die troosboodskap vanoggend. Jou sonde is nie groter as God jou Vader se liefde in Jesus Christus nie.
Jy werk nie vir genade nie. Jy kan nie jou saligheid verdien nie. Die pa laat nie die seun eers werk om te sien of sy werke ‘n plek in die huis verdien nie. Nee, Hy gee hom nie eers kans om sy goeie voorneme uit te spel nie. Nee, die seun is klaar vergewe.
As jy moes werk om genade te verdien, was Jesus Christus nie nodig nie. Dan kon jy net aanhou goeie dade doen, tot jy die saligheid bereik het.
Jy hoef nie jou plek in die Koninkryk te verdien nie. Rom 8:1 leer: Daar is geen veroordeling meer vir die wat in Jesus Christus is nie. Jy kan nie jou plek verdien nie!
God se genade is meer as die sonde wat jy kon doen.
Doen jou goeie dade – omdat jy reeds verlos is, reeds in ‘n verhouding met jou hemelse Vader in Jesus Christus is.
Moenie van mense verwag dat hulle dat hulle soos jy moet lyk, dink, hul verhouding met God moet beleef soos jy dit doen, voordat hulle in die kerk toelaatbaar is nie. Wie is jy om mense uit te sluit wat God insluit
Amen