Ek wil hê ons moet elkeen gou ʼn paar oomblikke neem om te dink aan die goed in ons lewe wat vir ons regtig belangrik is. Wat is die een ding, of twee dinge of ʼn paar dinge in jou lewe wat vir jou regtig belangrik is? Miskien in die kring van jou gesin, of jou werk of jou ontspanning, of wat ook al. Wat – of wie – is vir jou belangrik? Kom ons elkeen dink gou vir ʼn paar oomblikke daaroor na...
In die gedeelte wat ons nou net saam gelees het, hoor ons dat die mense van Jerusalem uitgegaan het na waar Johannes die Doper in die woestyn gepreek en mense in die Jordaanrivier gedoop het. Nou, waarskynlik was die plek waar Johannes gebly en gepreek het langs daardie deel van die Jordaan net voor dit in die Dooie See in loop. Dit was so dertig kilometer suidoos van Jerusalem. As ʼn mens mooi daaroor dink, dan kom jy agter dat dit nogal ʼn tawwe reis was van Jerusalem na daardie plek waar Johannes in die woestyn gebly het. Dertig kilometer is nie naby wanneer jy loop nie. En die terrein is rof; bergagtig. En, onthou, dit is in die woestyn. So dit was regtig nogal ʼn beduidenswaardige opoffering om vanaf Jerusalem af daar na Johannes de Doper toe te reis. Dit het tyd en energie en inspanning geverg. Dan is dit duidelik dat wat hier rondom Johannes die Doper gebeur het vir baie mense baie belangrik was. Belangrik genoeg dat hulle bereid was om baie energie daaraan te spandeer.
2. Bekeer julle
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Dit was Johannes die Doper se boodskap. En dit was wat die mense so aangeraak het dat hulle bereid was om tyd en energie en aandag aan hierdie geestelike werklikheid te spandeer. Op ʼn wonderlike manier het die Here dit so bewerk dat daar in daardie tyd klaarblyklik iets van ʼn geestelike herlewing was. Die mense het besef dat alles nie reg is met hulle lewens nie. Hulle was al hoe meer gepla deur hulle lewe. Daar was ʼn gevoel van ontevredenheid; ʼn soeke – “daar moet meer wees aan die lewe.” En ons lees nie hier dat dit spesifiek uiterlike omstandighede was wat aanleiding gegee het tot hierdie geestelike soeke nie. Daar was nie ʼn droogte of ʼn ramp of iets nie. Daar was nou wel die Romeine se oorheersing, maar die mense was al vir honderde jare gewoond daaraan. Op ʼn wonderlike manier was daar net ʼn behoefte aan méér. “Daar moet meer wees aan die lewe.”
En die opvallende is dat die gewone mense hier die leiding neem. Hulle was meer sensitief vir die beweging van die Gees as die geestelike leiers. Johannes die Doper, wat in sy persoon op ʼn manier hierdie geestelike herlewing vergestalt het, moes vir die geestelike leiers aanspreek. Hy moes hard praat met die Fariseërs en die Sadduseërs – die geestelike leiers van daardie tyd. Johannes sê vir hulle: moenie dink dit gaan oor uiterlike dinge nie! ʼn Mens is nie op ʼn geestelike reis net omdat jy ʼn Jood is, of net omdat jy sekere uiterlike gebruike hou nie. In vandag se taal sou ʼn mens seker iets sê soos: ʼn mens is nie op ʼn geestelike reis bloot omdat jy ʼn lidmaat van ʼn kerk is, of omdat jy op die oppervlak probeer om ʼn gerespekteerde lewe te lewe nie.
Nee, bekering begin aan die binnekant en vanuit die binnekant kom dit dan uit in regte, outentieke vrugte wat wys dat jou lewe op ʼn geestelike pad is. Dit is belangrik dat ons vanoggend ook weer hierdie boodskap hoor, broers en susters. Johannes die Doper kom die pad gereedmaak vir die Here. Sy boodskap is: bekeer julle. En die eerste beweging van “bekeer” is inkeer. Met ander woorde dat ek na binne toe kyk, my lewe in oënskou neem: wat is werklik belangrik vir my in my lewe? Wat gaan regtig hier aan die binnekant aan? Het ek dalk tot nou toe heeltemal te veel in my lewe op die buitekant gelewe? Is my selfbeeld gevorm deur die prentjies wat in Menlyn en The Grove en Woodlands Boulevard vir my gegee word? Word ek maar net op sleeptou geneem deur ʼn klomp begeertes wat ekself nie eers mooi verstaan nie? ʼn Tweede kant van “bekeer” is dan omkeer. Dat ander dinge nou vir my belangrik word. Ek is al hoe meer ontevrede dat hierdie al is in my lewe. Ek het ʼn behoefte aan meer. En ek is bereid om tyd en energie en aandag hieraan af te staan. Soos die mense van Jerusalem wat deur die bergagtige woestynstreek gereis het om by Johannes die Doper daar langs die Jordaanrivier uit te kom. Hoe is dit met jou gesteld op hierdie stadium in jou lewe, broer en suster? Hoeveel tyd en aandag spandeer jy aan wat hier binne aangaan? Ervaar jy iets van daardie verlange na meer hier in jou binnekant; iets van ʼn geestelike ontevredenheid; onrustigheid? En is jy bereid om daardie verlange te volg?
3. Jesus Christus – dié pad
Johannes die Doper se hele bediening het hieroor gegaan: bekeer julle van die buitekant af na die binnekant toe. Gaan op ʼn geestelike reis. Inkeer en omkeer. En tog was dit nie die finale woord nie. Uiteindelik was Johannes die Doper net die een wat die ingang na die geestelike reis toe aangewys het. Hy het na die pad toe gewys, hy was nie self die pad nie. “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het,” sê hy, “maar die een wat na my kom is my meerdere... Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.”
ʼn Mens bly jou hele lewe lank geestelik op reis, broers en susters, maar die goeie nuus is dat jy nie vir altyd maar net ʼn geestelike soeker hoef te bly nie. Om geestelik in Jesus Christus te wees is om geestelik by hierdie werklikheid te wees dat die koninkryk van God naby is. As my binnekant – en dan van binne af buitentoe – al hoe meer omvorm word om een te word met Jesus Christus – sy hart word my hart, sy lewe word my lewe – dán is ek op reis op die pad saam met God. Dit is waartoe die Heilige Gees my al hoe meer wil bring.
En dit is die werklikheid van die doop wat ons vanoggend gevier het! Toe klein Emily Haupt vanoggend gedoop is, is sy gedoop in die werklikheid van Jesus Christus se lewe en dood en opstanding in. Sy is as’t ware in hierdie geestelike pad geplaas – Jesus Christus. Nou moet sy deur die Heilige Gees al hoe meer soos Jesus Christus word.
En is dit nie ons almal se reis nie, broers en susters? As hierdie geestelike reis vir ons belangrik is, dan sal ons aandag daaraan spandeer. Hier aan die einde van die gedeelte wat ons saam gelees het word ʼn pragtige beeld gebruik. Dis van hoe die mense in daardie tyd die koringkorrels gekry het waarvan hulle uiteindelik brood gebak het. Nadat die koringare afgesny is, is dit op ʼn dorsvloer bymekaar gebring. Op die dorsvloer is die koringare geslaan, sodat die koringkorrels kon loskom van die stingels en omhulsels waarin hulle aan die koringare vas was. Al hierdie ander goed wat nie gebruik kon word nie is die kaf genoem. Noudat die koringkorrels en die kaf los was van mekaar, moes dit op ʼn manier geskei word. Die mense het dit gedoen deur ʼn skop – ʼn soort van ʼn vurk – te vat en die koringkorrels en kaf in die lug op te gooi. Die kaf is ligter en word deur die wind weg gewaai. Die koringkorrels is swaarder en val weer terug op die grond en word dan uiteindelik bymekaargemaak.
Dit is wat Jesus Christus in ons lewe wil doen! Dit is wat ons geestelike reis beteken! Om tydsaam met sorg met aandag toe te laat dat die Heilige Gees dinge hier in my binnekant losmaak. Sodat alles wat nie blywend in Jesus Christus is nie weggewaai kan word. Totdat uiteindelik nét Christus oorbly. Is dit vir jou belangrik? Waaraan spandeer jy tyd?
AMEN