Wapadrant
  • Wapadrant Tuisblad
    • Oor Ons >
      • Predikante
      • Personeel
      • Fasiliteite
    • Kaart / Map
    • Kontak Ons
    • Opname
  • Kennisgewingbord
    • Openbare Getuienis
    • Wapadrant Nuus
    • Nuutste aankondigings
    • Inry Erediens
    • Maand-Krant
    • GPS 2020
    • Geselsbrief Nuusbriewe
    • El-Pida Nuusbrief
    • GKSA - Brokkies Nuus & Publikasies
    • FOTO ALBUMS
  • Preke
    • Paasfees Musiek
    • Covideo inspirasie
  • Bedieninge
    • Toerusting / Opleiding >
      • Geestelike Paaie
      • Geloofstoerusting
      • Lewenstoerusting
      • Dissipelskap Toerusting
      • Genadegawes
      • Besprekings / Forums / Blogs
    • Eredienste
    • Gebedsbediening >
      • Gebedsversoeke en verhale van hoop en dankbaarheid
    • Jeug- en Gesinsbediening >
      • Huisgodsdiens
      • Hulpmiddels tydens Covid 19
    • Digitale Bediening
    • Kleingroepe >
      • Kleingroepboekies om af te laai
    • Pastorale Sentrum Wapadrant
    • Uitreik >
      • SUNRISE ROAD NPO >
        • Sunrise: Naskool en Leerder Ondersteuning
        • Sunrise: SAPS Trauma Sentrum
      • BURUNDI MISSION
      • MISSIO DEI SA
      • TOPIA NPO
      • ANDER
    • Werksplek Bediening (#PreachAtWork)
  • Meer
    • Wapadrant en Corona
    • Ander Web Skakels
    • Diensgroep- en Gemeente Aktiwiteite
    • Dienswerk
    • Finansiele Sake
    • Hulpbronne (Geestelike Groei) >
      • Bybelstudies
      • Preekreekse
      • Video's
    • Kalender
    • Kerkraad Sake >
      • Kerkraad verklarings >
        • Gespreksforum gehou - 09Apr2016 - Oor die vrou in die ampte (Klank opnames)
        • Gespreksforum 2 - Gehou op 26Mrt2017 (Eenheid en Verskeidenheid)
        • Gespreksforum 3 - Gehou op 24Mrt2018 (Toekoms van GKSA)
    • Kleingroepinisiatiewe
    • Verjaarsdae
    • Poste Beskikbaar
    • Poste Gesoek

My lewenstaak - Amie Van Wyk

19/2/2012

 
LEES: HAND 20: 17-38
TEKS: HAND 20:24 
Dit is ‘n wonderlike gewaarwording en sonderlinge ervaring om na vyftig jaar in die bediening vanmôre die evangelie van God se genade aan u te bring. Vanselfsprekend staan ek vanmôre hier met ‘n diep dankbare hart teenoor die Here vir wat ek oor die vyftig jaar van Hom ontvang het en dat Hy my as klein instrument in sy groot koninkryk gebruik het. Dankbaar ook teenoor my vrou en kinders en kleinkinders en familie wat in hierdie tyd saam in die koninkryk gedien het. Dankbaar ook vir wat ek van my ouers en grootouers ontvang het.
Soos Paulus, en soos Samuel en Moses, kyk ‘n mens dan terug op jou bedieningstyd, oor na wat bruikbaar daarin was maar ook na wat broos en weinig-werd was. 


In die gelese gedeelte in Handelinge 20 lees ons dat Paulus op pad is na Jerusalem, wat dalk sy laaste besoek aan hierdie heilige stad kan wees. Sy skip anker in die hawe van Milete, sowat 50 km suid van die pragstad Efese. Efese was saam met Atene en Jerusalem gereken as die drie heiligste stede van die oudheid. Daarby was dit ook ‘n besondere kultuur- en handelstad. Hier het Paulus vroeër die evangelie verkondig en vir drie jaar die gemeente in die openbaar en by hulle huise opgebou en toegerus het (20). Nou wil hy graag vir oulaas die ouderlinge (presbiters, episkope/biskoppe)(17,28) vir gesprek en gebed ontmoet om ‘n laaste boodskap aan hulle oor te dra. Hierdie laaste boodskap van Paulus aan die ouderlinge herinner sterk aan Jesus se slotpreek aan sy dissipels in Matteus 24-25. Soos Jesus sy dissipels drie jaar onderrig het, so het Paulus ook met die ouderlinge van Efese gedoen.
Die groot vraag is nou: waaroor wil Paulus graag vir oulaas met die ouderlinge praat? Iemand se laaste woorde word tog altyd as besonder belangrik beskou. Want of hulle vir Paulus weer sal sien, is onwaarskynlik, hy is op pad na die Jerusalem, die stad van gevaar, die stad van die kruis.
Paulus spreek die hoop uit dat sy groot begeerte is om sy lewenstaak te voltooi. Wat was sy lewenstaak? Lees ons hierdie gedeelte noukeurig, dan word dit duidelik dat hierdie lewenstaak van Paulus in twee groot dele uiteenval, wat ons met twee V’s kan aandui, naamlik verkondiging en versorging, die verkondiging van die evanglie en die versorging van die gemeente.
Verkondiging van die evangelie
Die eerste deel van sy lewenstaak wat Paulus hoop om te voltooi, is verkondiging, maw preekwerk. Hierdie woord ‘verkondiging’ word in die Grieks met verskillende woorde beskryf en op verskillende maniere verduidelik. Die inhoud van sy boodskap word vanuit drie verskillende hoeke belig. Veral drie omskrywings is opvallend.
Eerstens verwys Paulus na sy lewenstaak as om die evangelie van God se genade te verkondig (diamarturasthai) (24). Die evangelie van God se genade! Die goeie boodskap van God se goedheid, sy vergewingsgesindheid, sy welwillendheid, sy bevryding. God wil die redding van mense en nie hulle ondergang nie. Alle soort mense.
Hierdie genade van God vir die mense het natuurlik sigbaar geword in die koms van die Here Jesus. Hý is die uitdrukking van die liefde van God. Hý is dit wat ons met God versoen, Hý is dit wat ons verhouding met God regmaak. 
In hierdie verband gebeur daar nou iets interessants in die boek Handelinge, want hier word daar vir die eerste keer verwys na die “bloed van sy Seun”(28). Voorheen in die boek Handelinge, waar die preke van Petrus en Paulus opgeteken is, word deurgaans verwys na die opstanding/opwekking van Jesus as die evangelie. Só belangrik was die opstanding van Jesus, as oorwinning oor die dood, dat dit as die volle evangelie beskryf is (vgl Rom 10:9; 2 Tim 2:8). Hiér word vir die eerste keer in Handelinge na die kruis van Christus as evangelie verwys. Ons kan dus sê dat kruis en opstanding die twee skarniere is wat die deur van die evangelie oopmaak. Sonder die oorwinning van Christus oor die sonde en die dood is daar geen evangelie nie.
Die tweede omskrywing van sy lewenstaak waarna Paulus hier verwys, is: hy het oral die koninkryk (van God) verkondig (kerussoon)(25). Dit is ‘n ander manier om dieselfde saak te sê (kyk 19:8).
U mag dalk sê dat ons in die briewe van Paulus baie min oor die koninkryk van God lees. Tog is die ondertoon van al Paulus se briewe die koninkryk van God. Lukas vertel ons ook in die laaste hoofstuk van die boek Handelinge dat Paulus as gevangene in sy gehuurde huis in Rome gebly het en aan alle besoekers “die koninkryk van God” verkondig het en aan mense “alles oor die Here Jesus Christus geleer het” (28:31). Paulus se hele lewe het gedraai om die uitdra van die evangelie van die koninkryk van God. Trouens, dit was ook die sentrale tema in Jesus se prediking tydens sy driejarige optrede en selfs ook die 40 dae na sy opstanding. Iemand het selfs die stellig oordrewe stelling gemaak dat Jesus die ‘koninkryk’ verkondig het en dat na sy dood helaas die ‘kerk’ gekom het. Die ‘kerk’ is natuurlik ook belangrik, Christus verwys twee keer daarna, maar slegs belangrik as instrument in diens van die koninkryk. As ‘n gemeenskap op homself, los van die koninkryk, beteken die kerk nie veel nie en is dit niks anders as ‘n godsdienstige klub nie.
Die koninkryk van God is die belangrikste saak op aarde. Dit vertel ons dat God se nuwe wêreld aangebreek het, ‘n wêreld met ander waardes, ander norme, ander standaarde, ander lewenstyle, ‘n wêreld van geloof, hoop en liefde, ‘n wêreld van vrede, vreugde, versoening, vryheid en geregtigheid (Rom 14:17). Hierdie nuwe wêreld van God het in ons gebroke aardse werklikheid ingebreek met die koms van Jesus Christus, met sy kruis en opstanding, en met die koms van die Heilige Gees, wat ons lewe nuut maak.
Die vraag is net: leef ons soos nuwe mense volgens nuwe standaarde of leef ons nog volgens die patroon van die ou wêreld vol selfsug en haat?
Paulus gebruik ‘n derde omskrywing van sy lewenstaak, naamlik dat hy nie nagelaat het om die heilsplan van God in volle omvang te verkondig nie (anaggeilai)(27). God se plan met die wêreld is ‘n heílsplan, ‘n goeie plan, ‘n plan van uiteindelike en volle welsyn. God koester nie slegte gedagtes teenoor die mens nie. Aan die kerk in ballingskap sê die profeet Jeremia dat die Here vir sy volk voorspoed en nie teenspoed nie beplan; die Here wil vir hulle ‘n toekoms gee (Jer 29:11). Dieselfde gedagte vind ons ook by die profeet Esegiël: Dit is nie die wil van die Here dat die mens moet sterf nie, maar dat hy hom bekeer en bly lewe (18:32). Juis hiérmee het Jona soveel moeite gehad toe hy die oordeelsboodskap van die Here aan die vyande van Israel, die Nineviete, moes bring: Hy het geweet die Here is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde en Een wat maklik afsien van die straf wat Hy aangekondig het (Jona 4:2).
Dis ‘n wanvoorstelling om te dink die God van die Ou Testament is ‘n God van wraak en die God van die Nuwe Testament is ‘n God van liefde. Dis een en dieselfde God, dieselfde God van liefde en genade, met ‘n heilsplan vir elkeen wat hom/haar bekeer en in Jesus Christus glo.
Versorging van die gemeente
Die tweede saak wat vir die apostel Paulus belangrik is, is dat die gemeente as kudde van van Christus ‘opgepas’ en ‘versorg’ moet word (28). Hierdie taak het Paulus aanvanklik self onderneem (20,31), maar na sy vertrek is ouderlinge hiervoor aangewys. Twee sake is dus vir Paulus belangrik: die evangelie moet aan heidene en aan gelowiges verkondig word en daarna moet die jong gemeente pastoraal versorg word. 
Vir lang tye in die kerk is daar gedebatteer oor wat nou eintlik die belangrikste is: die vermeerdering en groei van die kerk, met ander woorde, sendingwerk, of die bewaring en versorging van die gemeente. Moet jy hou wat jy het, of moet jy soek na wat jy nog nie het nie? In die kerkgeskiedenis was daar altyd die neiging om die klem eerder te laat val op bewaring as op vermeerdering. Maar dis ‘n foutiewe benadering, want álbei is belangrik. Vermeerderend moet die kerk bewaar, en bewarend moet die kerk vermeerder. 
Ons sien dit ook baie duidelik in die optrede van die Here Jesus. Matteus (70-80 nC) vertel ons dat Jesus kort voor sy hemelvaart aan sy dissipels verskyn het en aan hulle die volgende opdrag gegee het: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (28:19). Johannes (95 nC) weer, wat sy evangelie later as Matteus skryf, vertel dat Jesus se laaste opdrag aan Petrus was: “Pas my skape op” en “laat my lammers wei” (Joh 21). In Matteus gaan dit oor die uitgaan, die verkondiging van die evangelie; in Johannes oor die versorging en die oppas van die gemeente. Albei is belangrik. Die uitgaan-opdrag is duidelik, maar so ook die oppas-opdrag. Dit maak immers nie sin dat ‘n gemeente ontstaan en dat daardie nuwe gemeente dan aan wrede wolwe oorgelaat word om die gemeente te verwoes nie.
Dis belangrik dat ons afgelope Algemene Sinode (2012) weer die uitreikaksie van die kerk beklemtoon het en dat óns gemeente ook dieselfde doen, maar ons moet altyd onthou dat die uitreikaksie en die bewaring van die gemeente twee kante van dieselfde munt is.
Só het Paulus ook sy taak gesien: verkondiging én versorging. Dis ook die taak van elke predikant. Maar omdat een predikant nie alles kan doen nie, is daar helpers in die gemeente, naamlik ouderlinge wat veral die versorging van die gemeente waarneem. Dis juis met hulle met wie Paulus hier praat. Paulus moedig hulle aan om die gemeente te beskerm teen wrede wolwe wat die gemeente met leuens kan verlei. Die ouderlinge moet walgooi teen elke vorm van dwaalleer en sorg dat die evangelie van God se genade suiwer verkondig word. Dis ‘n kenmerk van die ware kerk!
Dis ‘n vraag aan elke ouderling en elke predikant: hoe versorg jy die gemeente van Christus? Hou jy die wolwe weg?
Dit val op dat Paulus een groep in die gemeente uitsonder aan wie op ‘n besondere wyse aandag gegee moet word, naamlik die armes (35). Hy noem dat alle gelowiges hard moet werk sodat hulle iets kan hê om die armes te help. Paulus het, soos Jesus ook, ‘n oop oog vir die weerloses en minderbevoorregtes in ‘n gemeente – en in die samelewing. 
So vra die Here ook vanmôre aan u en my: gee jy voldoende om vir die armes, in hierdie gemeente en ook buite hierdie gemeente? Is jou hart oop vir die armes? Daar word bereken dat daar meer as ‘n 1000 miljoen armes in die wêreld is - en ook baie in Suid-Afrika.
Drie leemtes in die bedieing
Oorskou ‘n mens jou eie bediening van 50 jaar in die lig van bogenoemde, kan jy minstens drie groot leemtes en tekortkomings uitwys. Hierdie waarneming geld vir my persoonlik, maar ook vir die GKSA in die algemeen en selfs vir elke kerk in die wêreld.
Die eerste leemte is: jou bediening was te eensydig kerksentries en te min koninkryksentries. Jy het te veel die kerk as doel van jou bediening gesien in plaas van die koninkryk van God. Ons primêre taak is nie om mense ‘in die kerk’ te kry nie, maar ‘in die konkryk’. Eenmaal in die koninkryk, is hulle dan vanself in die kerk en word hulle as kerklidmate diensbaar aan die koninkryk, wat baie groter en wyer en belangriker as die kerk is en die ganse wêreldsamelewing, ja, die totale heelal omvat. Natuurlik moet gelowiges toegerus word tot diens in die kerk van Christus (Ef 4:12), maar hierdie toerusting moet weer dien tot groter diens aan die koninkryk (Matt 7:21; 25:31-46).
Die tweede leemte is: daar is te veel eensydige klem gelê op (en tyd bestee aan) middelmatige sake in plaas van fundamentele sake. Fundamentele sake is sake soos: is God daar? Is God goed? As God goed is, waarom gebeur daar soveel bose dinge in die wêreld? Het die kruis van Christus enige verlossingsbetekenis? Het Christus waarlik uit die dood opgestaan? (Almal sake wat vandag bevraagteken word.) Middelmatige sake is: moet vrouens eredienste bywoon met ‘n hoed op die kop? Is tien bekers aan die nagmaalstafel verkiesliker as duisend kelkies in die banke?
Ons moet besef, broer en suster, dat die tyd vir goed verby is dat die kerk van Christus haar tyd en krag aan middelmatige sake kan bestee. So ‘n kerk sal ‘n stadige dood sterf. Die groot en fundamentele vrae is vandag net te veel en te dringend.
Die derde leemte is: ons het in die verlede eensydige klem gelê op beginsels maar sonder om aan te toon hoedat daardie beginsels in die lewenspraktyk van elke dag toegepas behoort te word. Ons het wêreldvreemd geword. Ons het soms baie vaag gepreek en sinodebesluite geneem, sonder om konkreet te wees. Ons was goed om beginsels uit te spel, sonder om aan te toon hoedat daardie beginsels hande en voete in die lewe van elke dag moet kry.
Ons het in die vorige politieke bedeling klem daarop gelê dat ‘n politieke beleid regverdig moet wees, sonder om indringend genoeg te vra: Ís ons beleid regverdig? Soos ons vandag moet vra: is die heersende kru vrye-mark sisteem goed vir die wêreld en vir ons land? In 1989 het die kommunisme (sosialisme) geval, maar sedert die ekonomiese krisis van 2008 slinger die Westerse wêreld soos ‘n dronk man.
Nog die heel belangrikste saak vandag is die wêreldwye ekologiese krisis. Kundiges voorspel dat die wêreldsameling teen die jaar 2050 gaan ineenplof as daar nie iets dringend gedoen word ten opsigte van aardverwarming, energiebronuitputting en omgewinsbesoedeling nie. Christene, gemeentes, sinodes moet dit uitskreeu: ons mág nie langer God se goeie aarde so verniel en verwoes en vernietig nie! Ons opdrag is om dit op te pas! Ons moet wegdraai van ons genot- en uitbuiterskultuur en vir ons nageslag ‘n mooi en skoon aardbol nalaat! (Daar is onlangs bevind dat die natuurlike omgewing van Suid-Afrika die afgelope 20 jaar (1992-2012) die vinnigste van alle lande ter wêreld agteruitgegaan het.)
Mense voorspel dat die aarde op 21-12-12 gaan vergaan. Ons weet egter dis blote spekulasie, maar wat ons wél weet is dat alles daarop dui dat ons - indien ons nie ons gedragspatrone gaan verander nie – die wêreld teen 2050 op ‘n enorme omgewingskrisis afstuur.
Daar kom tye in die lewe dat ons baie konkreet moet wees, soos toe Paulus vir Petrus voor die hele gemeente gesê het: Nou is jy op ‘n dwaalspoor! Of soos die profeet Natan vir Dawid: Jy’s die man! Jy’s die moordenaar! Of soos Christus vir Petrus: Gaan weg agter my! Jy’s vir My ‘n Satan (teenstander)! Dat ons vir die groot maatskappye en myne en munisipaliteite moet sê: Jy’s die sondebok! En dan kan ons die vinger ook maar na onsself wys en sê: Jý’s die man/vrou! Ék moet my lewenspatroon verander en skoon lewe. Christus het my immers bevry en sy Gees maak van my ‘n nuwe mens wat op ‘n nuwe manier behoort te lewe. 
Die tragiek is dat as die aardse hulpbronne begin opraak, dit juis die armes gaan wees wat die eerste en die meeste gaan swaarkry.
Slot
As mens ouer word, broer en suster, besef jy die uurglas loop leeg en jy is ‘n dag nader aan die einde, of beter, ‘n dag nader aan ‘n nuwe begin. Jy’s in die vertreksaal, maar op pad na die ontvangsaal. Jy kyk terug op jou lewenstaak en besef hoeveel swakhede en leemtes daarin te sien is en jy vra die goeie God om dit te vergewe – en die goeie pogings te seën.
Maar jy is ook innig dankbaar om vanmôre saam met ‘n gemeente van Christus nagmaal te vier, die maaltyd wat ons almal herinner aan God se groot genade en vrye vergifnis, die maaltyd van die koninkryk, die maaltyd wat God se volle heilsplan voor ons oopsprei.
Mag ons almal vanmôre iets van God se groot genade in Christus Jesus ervaar as ons die brood eet en die wyn drink. En mag sy goeie Gees ons harte vanmôre versterk en ons lewens nuut maak.
AMEN
Preek gelewer deur Amie van Wyk in die Geref Kerk Wapadrant op 19 Februarie 2012 na 50 jaar in die bediening. Hy is op Saterdag 17 Februarie 1962 deur prof WJ Snyman as predikant bevestig in die Geref Kerk Salisbury in Suid-Rhodesië (tans bekend as Harare in Zimbabwe). Prof Snyman het hom (1937) en Ria (1938) in die Geref Kerk Venterstad gedoop.
[Nota: vanweë die tydsfaktor is die uitgeskrewe preek tydens die preeksessie aanmerklik verkort] 

Comments are closed.
    Picture

    Preke op Video en Klankbaan hier beskikbaar. Of laai dit af op jou rekenaar / selfoon om later te gebruik.
    ​
    Indien jy waarde kry uit hierdie preke en geroepe voel om ‘n finansiële bydrae te maak....(Volg hierdie skakel of gebruik die SnapScan funksie hier onder)
    Picture

    RSS Feed

    Tydperk

    January 2021
    December 2020
    November 2020
    October 2020
    September 2020
    August 2020
    July 2020
    June 2020
    May 2020
    April 2020
    March 2020
    February 2020
    January 2020
    December 2019
    November 2019
    October 2019
    September 2019
    August 2019
    July 2019
    June 2019
    May 2019
    April 2019
    March 2019
    February 2019
    January 2019
    December 2018
    November 2018
    October 2018
    September 2018
    August 2018
    July 2018
    June 2018
    May 2018
    April 2018
    March 2018
    February 2018
    January 2018
    December 2017
    November 2017
    October 2017
    September 2017
    August 2017
    July 2017
    June 2017
    May 2017
    April 2017
    March 2017
    February 2017
    January 2017
    December 2016
    November 2016
    October 2016
    September 2016
    August 2016
    July 2016
    June 2016
    May 2016
    April 2016
    March 2016
    February 2016
    January 2016
    December 2015
    November 2015
    October 2015
    September 2015
    August 2015
    July 2015
    June 2015
    May 2015
    April 2015
    March 2015
    February 2015
    January 2015
    December 2014
    November 2014
    October 2014
    September 2014
    August 2014
    July 2014
    June 2014
    May 2014
    April 2014
    March 2014
    February 2014
    January 2014
    December 2013
    November 2013
    October 2013
    September 2013
    August 2013
    July 2013
    June 2013
    May 2013
    April 2013
    March 2013
    February 2013
    January 2013
    December 2012
    November 2012
    October 2012
    September 2012
    August 2012
    July 2012
    June 2012
    May 2012
    April 2012
    March 2012
    February 2012
    January 2012
    December 2011
    November 2011
    October 2011
    August 2011
    July 2011

    Onderwerpe

    All
    Afgodery
    Afguns
    Afstand
    Bekommernis
    Belofte
    Blydskap
    Christus
    Deurkruis
    Dissipels
    Dissipelskap
    Doop
    Einde
    Erfenis
    Feeskos
    Gebed
    Geloof
    Genade
    Gesag
    Geskenke
    God
    God Se Stem
    Groeiefases
    Groot
    Hel
    Hemelvaart
    Jaco Kruger
    Jerusalem
    Jesus
    Jesus; Ly Vir Ons
    JOH 20:1-18
    Jubelsondag
    Jy Is Vry
    Kan Jy?
    Kerk
    Kersfees
    Kind
    Koringkorrel
    Krisis
    Labels
    Lag
    Lewenstaak
    Liefde
    Maria
    Ma-wees
    Moedersdag
    Moederskap
    Moeg
    Naam
    Onwelvoeglik
    Paasfees
    Palm
    Palmsondag
    Palm Sondag
    Peet Vermeulen
    Petrus Grove
    Pinkstersondag
    Prof Amie Van Wyk
    Reënboog
    Regte
    Restourasie
    Saad
    Sabbatsbrood
    Selfsug
    Seniors
    Sien Is Glo
    Simson
    Skoongewas
    Skuldbelydenis
    Sloet
    Sorg
    Spaar
    Sterf
    Sterk
    Sterk Bene
    Straatkafee
    Swak Bene
    Tafelmaniere
    Te Besig
    Te Laat
    Tempel
    Thinking Out Loud!
    Tuin Van Eden
    Verdienste
    Verheerlik God
    Verhoudings
    Verkiesing
    Verslawing
    Versoeking
    Vlees
    Vrou
    Vrugte Van Die Gees
    Vry
    Wandel
    W.A.T.
    Wat Drink Jy?
    Water
    Werd
    Werk
    Wetenskap
    Wilhelm
    Wilhelm Se Blog
    Winter
    Woede
    Woord


Photos used under Creative Commons from Neil Armstrong2, vancouverfilmschool, Evan Courtney, Ken Wilcox., hjjanisch, Parker Michael Knight, woodleywonderworks, Ari Helminen, Dougtone, radiant guy, yoga - photowork, Trilok Rangan, xmatt, Iza & Audrey Love !, Beverly & Pack, damo1977, Spencers Brook Farm, The ReflexMan, jamtea, Ryan Vaarsi, Vampire Bear, dpape, Justin A. Wilcox, marfis75, Niklas Hellerstedt, SHAREconference, Lori_NY, Allie_Caulfield, Andrew Michaels, onnola, GViciano, allspice1, tiltti, Parker Michael Knight, Pablodda, dededanabby, Capture Queen ™