Luister preek | Laai teks af![]()
| Laai audio af![]()
|

As ons vir mekaar moet sê watter dinge daar in die lewe is wat ons bekommerd en bang en ongelukkig maak, sal dit seker nie baie lank neem voor ons begin praat oor die geweldige vlakke van geweld wat al meer in ons samelewing voorkom nie.
Party van ons het dit al self aan ons lywe gevoel, ander weet van vriende of familie wat daar deur is. Van plaasmoorde, gesinsmoorde, huisrowe en verkragtings, gewelddadige betogings, tot die slagting verlede jaar by Marikana en meer onlangs Oscar Pistorius wat sy meisie geskiet het en die polisielede wat die Mosambiekse taxibestuurder aan die vangwa geboei en in die strate rondgesleep het totdat hy dood is... so strompel ons in hierdie pragtige land van ons voort van die een voorval van geweld tot by die volgende.
Natuurlik wens ons dit was nie so nie. Ons wens ons kon iets doen. En ons dink terug aan die dae toe dit nie so was nie. Toe dit vir ons nog veilig was. En dikwels baklei en worstel ons met die Here hieroor – en ons raak opstandig. Partykeer is ons lus om vuur met vuur te beveg! Maar ek dink meestal word ons net al banger en al hoe meer bekommerd en ongelukkig.
1. Vrees en nederigheid
Hoekom is ons so bang en bekommerd en ongelukkig?
Een van die redes is omdat ons voel dat ons geen beheer oor die huidige situasie het nie. As ek beheer oor iets het, voel dit mos of ek ‘n bietjie veiliger is. Dan kan die dinge my nie sommer onverhoeds oorval nie. En ek is ‘n bietjie rustiger in my gemoed: want ek voel ek kan darem nog iets doen om die situasie te probeer beheer.
Maar nou is dit nie so nie: die geweld in ons land is soos ‘n weghol veldbrand - en ons voel totaal magteloos. Nie net omdat ons onveilig voel nie, maar gewoon omdat dit so verskriklik verkeerd is en ons as gelowige kinders van die Here dit so graag anders wil hê. Maar ons weet nie wat om te doen nie! En dit vreet aan ons...
Maar weet jy wat leer Dawid ons in Psalm 131?
Die geheim van rustig en tevrede wees is nederigheid en oorgawe aan die Here.
Hoe aangrypend skryf hy nie hier van rus en kalmte en tevredenheid wat hy gevind het nie! Uit die inhoud van die Psalm kom ons duidelik agter dat Dawid self ook eers in ‘n situasie was van worsteling en stryd en waarskynlik ook angs. Wanneer ‘n mens ‘n bietjie nalees oor wat Dawid in sy lewe alles deurgemaak het, is dit nie te moeilik om te verstaan uit watter agtergrond hy die Psalm skryf nie. Daarom is dit so aangrypend wat hy hier skryf: ek het rus en kalmte en tevredenheid gevind.
Hoe? Deurdat hy in sy worsteling agtergekom het dat hy eers nederig moet word voor hy rus sal vind.
2. Trotse hart en vermetele oë
Sommer met die intrapslag lê hy die kern van die probleem oop (vers 1a):
Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.
Letterlik staan daar in die Hebreeus:
O Here, my hart is nie trots en my oë nie na bo gerig nie.
En ek het ook nie geloop in groot dinge, in dinge wat te verhewe (of: te verstommend) vir my is nie...
Dis die kern van die probleem: ‘n trotse hart en oë wat vermetelheid uitstraal.
Ons weet dit tog: wat in jou hart aangaan, bepaal jou hele lewe. Jesus sê in Matteus 12:34:
Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
So waarsku Spreuke ons ook (Spr. 4:23):
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe.
In die Hebreeuse wêreld van die Ou Testament is die hart gesien as die setel van jou intellek, wil, emosies, beweegredes – die diepste van jou wese, wat alles bepaal en dryf. Ons ken dit vandag nog: jou diepste hartsgedagtes/hartsgevoelens bepaal jou lewe. En as daar iets fout is in jou diepste hart, kom dit na vore in jou lewe: in wat jy sê en wat jy doen.
Daarmee saam is jou oë die vensters wat op jou hart oopmaak. Jy hoef nie ‘n enkele woord te sê nie, maar net een kyk van jou oë sê wat hier binne-in jou aangaan. As daar vermetelheid diep in jou hart is, sal jou oë dit wys.
Dis nogal skrikwekkend, nie waar nie! Wat diep in jou hart leef kan jy nie wegsteek nie!
Sê ‘n bietjie: is jy nederig?
Wat gaan regtig in jou hart aan? Wat wys jou oë?
[Terloops: as jy sê dat jy nederig is, is jy dit dalk juis nie...]
Dawid laat dit hier deurskemer: dit was my probleem. My hart was trots. My oë het gestraal van vermetelheid. En daarom het ek my allerhande dinge aangematig.
En wat was die gevolg?
Onrus, angs, ongelukkigheid. Hy het gedink dat hy alles kan beheer. Hy het gedink dat hy alles verstaan. Dat hy gearriveer het. Dat hy op sy eie kan staan. Dat hy self kan regkom. Dat hy sterk genoeg is. En dat alles van hom afhang. Waarskynlik was hier ook spore van eiegeregtigheid: die idee dat hy en sy lewe baie belangrik is en dat hy in die middel van sy wêreld staan. En dat hy sekere regte het wat die Here vir hom moet in stand hou – want hy is mos die Here se kind!
3. Soos ‘n kindjie by sy moeder
Maar toe het sy lewe omgedraai. Om te illustreer hoe dit gebeur het, gebruik Dawid in vers 2 ‘n beeld wat in sy tyd alledaags was - en in die meeste huishoudings vandag nog voorkom: dié van ‘n kindjie wat rustig en tevrede by sy moeder inwurm en in haar arms aan die slaap raak.
Wat nou nie so duidelik in die Nuwe Afrikaanse Vertaling of die Nuwe Lewende Vertaling of Die Boodskap na vore kom nie, is dat hier in vers 2 ‘n Hebreeuse woord gebruik word wat spesifiek verwys na ‘n kind wat gespeen is.
En dit verander die prentjie. Want dit vertel van skok en swaarkry en stryd – voordat die uitendelike rus en kalmte gekom het.
[Ons kinders sal weet: as jou hond kleintjies gekry het, dan drink hulle vir die eerste ruk aan hulle mamma. Maar hulle kan nie vir altyd net aan hulle mamma bly drink nie. Daar kom ‘n tyd wat hulle regte groot-honde-kos moet begin eet en water moet begin drink. Dit is dan wat die mamma hulle nie meer toelaat om aan haar te drink nie. Dit gebeur net so met ons mens-babatjies: in die begin drink hulle aan hulle mamma, maar daar kom ‘n tyd wat hulle moet begin grootmens kos eet en water en koeldrank en hasiemelk drink].
Ons noem dit “speen” wanneer ‘n mamma haar babatjie nie meer aan haar laat drink nie. En natuurlik is dit nie lekker vir so ‘n gespeende babatjie nie: hy huil en baklei en hy is ongelukkig en kwaad, want sy mamma se melk is vir hom lekker. Dis een van die eerste dinge wat hy leer ken het en wat hom getroos het en laat beter voel het toe hy gebore is. En nou wil sy dit nie meer vir hom gee nie!
Natuurlik weet die ma dit is die beste vir hom: want hy word mos nou al groter. Hy het ander kos nodig. En sy gaan in elk geval nie altyd daar wees om vir hom sy melkies te laat drink nie. Dis nie dat haar liefde nou opgehou het nie. Dit voel dalk so vir die babatjie, maar hy is nog te klein om te verstaan dat dit wat sy ma doen vir hom die beste is.
By die Israeliete het ‘n ma eers op 3 jarige ouderdom haar kind so gespeen. En as gesinsman het Dawid hierdie toneel sekerlik meer as eenkeer gesien: die kindjie wat stoei en baklei en huil – en die ma wat geduldig maar ferm aanhou “nee” sê. Totdat die kindjie uiteindelik ingee en sy lot aanvaar. En dan tog maar in sy ma se arms inwurm en uiteindelik aan die slaap raak. Met rus en kalmte en tevredenheid oor sy lyfie geteken...
Is dit nie ook so met ons as gelowiges nie?
Dat ons dikwels eers ‘n pad van worsteling en swaarkry en baklei en ongelukkigheid met die Here moet loop - voordat ons ingee en aanvaar en tot rus kom nie?
Is dit nie so dat ons – as gevolg van ons eie hoogmoed en vermetelheid – soos ‘n klein kindjie leef, sonder om die groter prent te kan sien nie? Dat ons so baie kere nie besef en verstaan dat die Here juis ook swaarkry en dinge wat ons bangmaak toelaat - sodat daar geestelike groei kan wees en ons nog verder gereed gemaak kan word om al meer soos volwasse gelowiges die hande en voete van ons Here Jesus in die wêreld te wees nie?
Is dit nie dalk ook waar my en jou onrus en angs en ongelukkigheid vandaan kom nie? Dat ons dalk nie verstaan dat die Here ons (soos die liefdevolle moeder van Psalm 131) geduldig lei en dikwels net nie ons wil toelaat nie - tot op ‘n punt waar ons uiteindelik ingee en aanvaar wat Hy tot stand gebring het nie?
Kan dit dalk wees dat die Here juis die situasie in ons land (en veral die verskrikking van geweld) toelaat - onder andere ook om my en jou te speen van ons hoogmoedige harte en ons trotse oë?
Die Hebreeuse woorde vir rus en kalmte het te doen met gelyk maak (soos die golwe op die see kalm raak) en stil word (soos wanneer jy verstom en verbaas is). Dis wat met jou en my gebeur wanneer ons na ‘n tyd van stryd en worsteling ons rus en vrede by die Here soek. Wanneer ons (soos Dawid hier skryf) ons binneste onder beheer bring en stil maak en ons uiteindelik inwurm in die veilige arms van ons hemelse Vader.
4. Wag op die Here
Dawid het na verloop van tyd uiteindelik verstaan wat die Here hom leer. Hy het verander. Sy geloof het gegroei. En dit was vir hom baie goed. En daarom roep hy sy medegelowiges op (vers 3):
Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.
Dis ook my en jou oproep: wag op die Here. Hoop op Hom. Hy is in beheer. Hy het jou lief. Hy versorg jou en lei jou nog beter as ‘n liefdevolle en wyse moeder. Wat Hy gee is genoeg en die beste vir jou.
Met ons viering van die nagmaal troos die Here my en jou vandag weer: al gaan dit hoe erg en gewelddadig in die wêreld, niks en niemand kan sy liefde van ons wegneem nie. Met liefde en deernis en vergifnis het ons Here Jesus die koue oë en harde harte van sy moordenaars in Getsemane en Golgota tegemoet gegaan. Hy het met sy lewe betaal. Maar Hy het op die 3de dag uit die dood opgestaan. As die lewende Christus regeer Hy oor alles. Hy is besig om alles nuut te maak: ook my en jou. Hy haal harte van klip uit en gee ‘n nuwe hart – sy hart. Hy maak selftevrede en harde oë sag en vol liefde met begrip en deernis – sy oë. Hy maak ons rustig en tevrede, selfs te midde van die verskriklikste omstandighede.
Beteken dit nou dat ons maar net moet wag? Dat ons maar net moet aanvaar dat ons niks kan doen aan die klomp geweld in ons land nie? Dat dit iets is wat die Here toelaat en dat ons moet terugstaan? En probeer kalm raak daaroor? En maar net moet hoop dat iets in ons binneste verander as gevolg hiervan? En dat die Here op sy tyd sal ingryp? Dat ons maar net moet wag totdat daar dalk een of ander nuwe politieke leier kom en alles kom regmaak?
Nee.
In vers 1 skryf Dawid:
...Ek maak my nie besog oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is...
Dinge wat bo my vermoë is, is die Here se terrein. Ek los dit rustig vir Hom. Maar dinge wat binne my vermoë is, pak ek aan met mag en mening. Want die Here gebruik my daarin. Hy eis van my om te doen wat my hand vind om te doen om ‘n verskil te maak oral waar ek kom. En om sy koninkryk van liefde en vergifnis gestalte te gee. Met begrip en fyn aanvoeling van dit waaroor dit werklik gaan.
Ek en jy is tog een met Jesus: dis een van die betekenisse wat duidelik na vore kom in die nagmaal. Wanneer ons die brood eet en die wyn drink word dit deel van ons binneste. Dit bevestig ons een-wees met ons Here Jesus.
Daarom kan ons nie maar net terugsit nie. Ons moet alles doen wat ons kan om in ons wêreld al hoe meer te wys dat Christus regeer – en nie die bose nie. Ons moet - met ‘n heilige woede en verontwaardiging daaroor - die sonde en boosheid en wreedheid beveg met alles wat ons kan. Want dit is immers presies soos die Here se koninkryk nie lyk nie!
Natuurlik is daar baie wat ons kan doen en moet doen om die siklus van geweld in ons land te stop. Jy stop nie geweld met geweld nie - jy stop dit met liefde in allerlei vorms en gedaantes: om eerlik en reguit te getuig, om in jou benadering en omgang met alle mense die liefde van Christus as teenvoeter vir die geweld te wys. Om juis ook in die klein dingetjies te wys dat opregte deernis en omgee uit jou uitstraal.
Slot
Die Here het my en jou innig lief. Kyk net wat het Hy opgeoffer om ons vir Homself te kon terugkoop: Homself – in sy eie Seun aan die kruis.
Omdat Hy jou en my so liefhet, werk Hy dikwels met ons soos ‘n liefdevolle ma met haar kind. Hy neem sekere dinge van ons af weg (soos bv. ons gevoel van sekuriteit) of laat sekere dinge in ons lewe toe (soos bv. gewelddadige optrede wat ons en ons geliefdes se lewe bedreig), sodat ons in ‘n proses van geloofsgroei kan kom. Sodat ons weer nederig en afhanklik van Hom kan word. En ons rus en kalmte by Hom kan vind.
Maar dit beteken nie dat ons maar net gelate moet aanvaar dat ons land in vlamme van geweld en haat en weerwraak opgaan nie. Daarom: beveg die sonde en die boosheid met alles wat jy kan – maar doen dit met opregte liefde en deernis.
Doen alles wat jy kan om op jou vlak van die wêreld óm jou ‘n beter plek te maak. Leef en vertel wat Hy in jou lewe doen. En onthou om in alles op die Here te bly wag. En op Hom alleen te vertrou.
Amen.