Laai teks af![]()
| ![]()
|

TEKSVERSE: Jesaja 30:15-16a
Inleiding
As jy met een of ander groot krisis gekonfronteer word: wat is jou reaksie?
Gestel jy word met ‘n baie ernstige mediese toestand gediagnoseer; of jou kind lê in ICU na ‘n motorongeluk; of jy verloor skielik jou werk; of jou pensioenfonds word gelikwideer... of so iets. Wat doen jy? Wat is jou eerste reaksie? Hoe hanteer jy die krisis?
Ek is waarskynlik nie ver verkeerd as ek sou sê dat die meeste van ons se eerste reaksie sou wees om te begin planne maak nie. Want is dit nie maar hoe ons grootgemaak is – en hoe ons ons kinders ook grootmaak – nie? Hoeveel keer het ons nie gehoor: “Dink ‘n bietjie, man! Gebruik jou kop! Maak ‘n plan! Moenie net daar staan nie, doen iets!”
Ons word geleer om self in te spring en ‘n plan te maak. Niemand gaan dit vir jou doen nie - jy moet self.
Vir die doopouers van vanoggend wil ek waarsku (en dalk weet julle dit al lankal): daar is twee dinge wat jy nie vir jou kind hoef te leer nie: om te vloek en *iets wat met hulle neuse te doen het! Dit kom sommer outomaties. Hulle leer dit self aan. En sommer maklik ook. Jy hoef dit regtig nie vir hulle te leer nie!
Een wees gewaarsku: daardie eerste vloekwoorde gaan julle sommer binnekort hoor (as dit nie al gebeur het nie). En dis die volgende woorde: ek, myne en self.
Hoekom noem ek dit vloekwoorde?
Omdat dit woorde is wat iets uitdruk van dit wat deel geword het van die mens as gevolg van die sondeval. Ek, myne en self is natuurlik nie op sigself lelike woorde nie. Maar as ons fyn teologies daarna kyk, sit daar in elkeen van hierdie woorde iets in van die fokus op myself, my voordeel en my manier. En iets van dit wat agter hierdie woorde lê, maak dit baie moeilik vir ons as mense om ons werklik te onderwerp aan die Here en sy wil. En dit laat ons die lewe op ‘n spesifieke manier aanpak.
Daarom gebeur dit so maklik dat wanneer een of ander krisis dreig, ons terugval op hierdie default (soos ons in rekenaartaal sê): dit wat eintlik al van lankal in ons ingeprogrammeer is. Ek fokus op myself, my voordeel, my manier, my insigte, my planne, my vermoëns. En dan hardloop ek vervaard rond en probeer alles wat ek kan om self die krisis af te weer.
2. Nie my eie planne nie
In Jesaja se tyd as profeet in Juda het hy op ‘n besondere manier hiermee te doen gekry. Reg van die begin van sy optrede, was die waarskuwing van die Here aan die mense van Juda baie duidelik: “Draai terug na My toe, anders kom my oordeel oor julle. Ek gaan magtige volke uit die noorde laat kom om julle land te kom verwoes en van julle slawe te maak!”
Arme Jesaja het ‘n moeilike taak gehad om hierdie boodskap van die Here te verkondig: want sy volksgenote wou nie hoor nie. Hoe meer hy gepreek het, hoe minder wou hulle regtig luister. En hoe meer het hulle hom begin teëgaan. Selfs nie sy versekering aan hulle dat die Here hulle regtig lief het en nog tyd gee vir omdraai – omdat Hy net die beste vir hulle wil hê – het hulle oortuig nie.
Uiteindelik (weet ons) kon Jesaja nie vir Juda oortuig nie. Nie eens die verskriklike van hulle broers en susters van die noordelike 10-stammeryk van Israel wat deur die magte van die Assiriese koning Sanherib oorrompel en as gevangenes weggevoer is in 722 v.C. het hulle oortuig nie. En uiteindelik het Juda dieselfde paadjie geloop: in 586 v.C. is hulle finaal in ballingskap weggevoer deur die magte van koning Nebukadneser van Babel. Daar sou hulle vir 70 jaar bly.
Ons teksgedeelte val in die tyd wat Jesaja die mense van Juda nog probeer waarsku om terug te draai na die Here toe. Maar die leiers van Juda het hulle eie strategie gehad om die bedreiging van die Assiriërs te probeer neutraliseer: hulle plan was om ‘n ooreenkoms met die Egiptenare aan te gaan. Want in daardie tyd was Egipte een van die wêreldmagte – en Juda se hoop was dat die militêre mag van Egipte genoeg afskrikking sou wees vir dié van die Assiriërs. En dat dit hulle veilig sou hou.
Dis eintlik nogal vreemd dat hulle juis na Egipte gekyk het vir hulp: was Egipte dan nie die plek in hulle volksgeskiedenis wat hulle met weersin vervul het nie? Was dit dan nie die plek waar hulle voorouers soveel verskriklike swaarkry en onreg gely het nie? Was dit dan nie die vyand – wat met soveel mag en krag uiteindelik deur die Here verslaan is sodat hulle voorouers onder Moses uit die aaklige omstandighede bevry kon word nie? Het Egipte dan nie in hulle spreektaal simbolies geword van alles wat boos en sleg is nie?
Maar dis hulle plan: gaan soek hulp by Egipte. Dit wys jou net hoe maklik kan ‘n mens afstomp en perspektief verloor. Vir Juda het dit na ‘n goeie plan gelyk: gaan soek skuiling by Egipte.
Maar vir die Here was dit alles behalwe ‘n goeie plan!
Kyk wat sê die Here deur Jesaja vir hulle (30:15-16):
So het die Here my God, die Heilige van Israel gesê:
As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.
Maar dit wou julle nie; julle het gesê:
“Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry!”
Dis hulle plan: wegjaag op vinnige perde...
In Israel en Juda was daar voor die tyd van Dawid en Salomo nie baie perde gewees nie. Die bergagtige terrein en woestyngebiede waar hulle gebly het, het dit moeilik en onprakties gemaak om perd te ry. Daarby was daar van lankal af ‘n verbod van die Here op die besit van baie perde deur die koning van Israel (Deut. 17:16) en is hulle veral verbied om terug te gaan Egipte toe om baie perde aan te skaf.
So, daar lê meer agter hulle woorde as hulle sê:
...ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry!
Dis minagtend en vermetel. Dis direk teen die wet van die Here in: Egipte en perde. Maar dis hulle plan!
En daarby is dit oorlogstaal wat hulle hier praat. Want in die wêreld van die Bybel was ‘n perd altyd simbolies van oorlog. Krag en spoed: dis wat ‘n perd het. (Ek onthou nog goed hoe my pa en oupa op die plaas dikwels gepraat het van ‘n motorenjin met soveel- en- soveel perdekrag.) En ‘n goed opgeleide perd was uiters waardevol in ‘n oorlogsituasie. Teen sy krag en spoed was die vyand net nie bestand nie. En jy was goed oppad na ‘n oorwinning.
Sien jy wat gebeur hier?
Wanneer die bedreiging van die Assiriërs waaroor Jesaja preek, al meer werklik lyk, ruk dit hulle nie tot hulle sinne nie. In plaas daarvan hulle antwoord met die “vloekwoorde” wat klein kindertjies al vroeg aanleer: Ek, myne, self. My voordeel, my manier, my planne... Dit wat van die sondeval af in ons mense inge-programmeer is.
Ten spyte daarvan dat die Here hulle ernstig daarteen waarsku om nie self te probeer planne maak nie. Ten spyte daarvan dat die Here dit in die volgende hoofstuk van Jesaja duidelik uitspel:
Egipte gaan nie help nie. Hulle is maar net mense – nie gode nie. Hulle perde is maar net gewone skepsels – nie bonatuurlike skepsels nie. Mensekrag en perdekrag is nie teen die krag van die Heilige van Israel bestand nie!
Die mense van Juda luister nie. Hardkoppig, vermetel en vervaard maak hulle hulle eie planne.
3. My redding lê by God alleen
Is dit nie ook wat ek en jy so dikwels doen nie?
Ja, ons bedoel dit nie so nie – maar is ons nie ook maar onbewustelik vermetel en minagtend teenoor die Here wanneer ons vervaard rondhardloop en ons eie planne maak nie? Wanneer ek en jy ons eie vinnige perde soek om op te spring en weg te jaag nie? Wanneer ek en jy ons eie Egipte opsoek om ons te probeer help en red nie?
En dit terwyl ons eintlik baie goed weet waar ons hulp en redding lê: by God self. By ons Here Jesus wat sy lewe as betaling vir my en jou redding gegee het.
Wat aangrypend is, is dat die Hebreeuse woord wat hier in vers 15 met gered word vertaal is, dieselfde stam het as die woord wat in die Grieks van die Nuwe Testament die naam Iesous (Jesus) geword het.
My en jou verlossing lê nie by vervaard rondhardloop en self allerhande planne maak nie. Ons verlossing lê by ons Here Jesus: by bekeer (terugdraai na Hom toe), by vertroue hê (vashou aan Hom vir alles wat ons in die lewe moet hanteer), en by tot rus kom en stil wees by Hom. Hy gee ons rus en vrede.
Net by Hom is dit te vind. Nie by die sterk en vinnige perde van Egipte nie. Nie by een of ander slim menslike plan – wat maar altyd nog net tydelik help nie. Hy heers en regeer oor alles en almal. En aan die einde van die tyd (so leer Openbaring 19:11-13 ons) kom Hy as die Ruiter op die wit perd om finaal die magte van die bose te oorwin.
Dis waar my en jou redding lê. Dis waarin ons rus en vrede lê. Geloof en vertroue in Hom wat al die mag in die hemel en op aarde het.
Slot
Wanneer die een of ander krisis jou oorval, wat is jou eerste reaksie? Waar soek jy na hulp en krag en antwoorde?
Vergeet van ek, myne en self.
Draai om na ons Here Jesus toe. Hou aan Hom vas. Vra Hom om jou die pad te wys. Hy sal jou nie alleen los nie. Hy maak ons rustig. Hy maak ons stil. Hy gee ons die krag wat alle verstand te bowe gaan om alles te kan hanteer wat in ons lewe gebeur.
Sodat ons met ons hele lewe in alles kan vertel en wys dat Hy sy kinders koester en versorg – duisend keer beter as wat ‘n aardse pa ooit kan!
Amen.