
[Iemand vra: die hele wêreld verander, waarom moet die kerk? Waarom moet ek? Juis OMDAT die wêreld verander, want dis hoekom ons hier is!]
Daarna het ons gaan kyk na die bome en die vraag vir onsself gevra: Is ek mooi om na te kyk of lekker om van te eet? Beïndruk ek mense of voed ek hulle? Vandag wil ons bietjie stilstaan by wat die Here vir die mens gesê het, die eerste opdrag en die laaste opdrag.
Vandag wil ons bietjie stilstaan by wat die Here vir die mens gesê het, die eerste opdrag en die laaste opdrag.
4 Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5 was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ’n mens om die grond te bewerk nie.
6 Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7 Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.
8 Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9 Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.
10 Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11 Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12 Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13 Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus.
14 Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat. 15 Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.
16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
18 Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” 19 Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.
20 Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie.
21 Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het.
Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. 23 Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”
24 Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. 25 Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.
Genesis 2:16, 17:
16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie...”
Wat is God se eerste opdrag aan die mens? “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil”!
Genesis 2:16 kan ook vertaal word met – “eet vrylik”. Dis ons eerste opdrag!
KJV: And the LORD God commanded the man, saying, Of every tree of the garden thou mayest freely eat
‘Eat freely’ Eet vrylik!
Wat dink julle is die laaste opdrag wat God aan die mens gee?
Openbaring 21:6:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
KJV: And he said unto me, It is done. I am Alpha and Omega, the beginning and the end. I will give unto him that is at thirst of the fountain of the water of life freely.
Openbaring 21:17:
Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!
KJV: 17 And the Spirit and the bride say, Come. And let him that heareth say, Come. And let him that is at thirst come. And whosoever will, let him take the water of life freely.
Wat is die laaste opdrag? DRINK VRYLIK!
Die Bybel begin met EET VRYLIK en eindig met DRINK VRYLIK! God se verhouding met die mens gaan oor VRYHEID.
Psalm 116:16, 17:
Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vry gemaak. 17 Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep.
Maar daar is ’n MAAR – MAAR van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Vryheid gaan saam met verantwoordelikheid. Mens, jy is vry om te lewe as mens, maar moenie probeer God wees nie – dit is nie jou verantwoordelikheid nie. Ongelukkig het die mens sy verantwoordelikheid nie nagekom nie en van die boom geëet. Die gevolg daarvan (sonde) was wette en reëls – as jy nie jou vryheid reg kan gebruik nie, word daar wette gemaak om jou daarmee te help. Die Ou Testament is die verhaal van wette en reëls om die verhouding met God te reguleer. In die Nuwe Testament verander dit egter. In Jesus Christus word ons weer vrygemaak!
Galasiërs 5:1:
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.
Wat is die slawejuk? Die Ou Testamentiese WET! Galasiërs 5:2-4:
Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3 Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4 Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.
As jy jou laat besny, moet jy die wet gehoorsaam! Dan is jy weer ’n slaaf van die wet. Moenie! Die wet is ’n slawejuk! Is dit nie so waar nie? Wanneer my lewe daaroor gaan om nie die 10 gebooie te breek nie, word ek ’n slaaf en voel ek heeltyd skuldig en hang die 10 gebooie oor my kop soos ’n swaard wat die heeldag op my afkom. Dis nie vryheid nie – dis slawerny!
Die MAAR van die vryheid in Christus is nie die wet van die Ou Testament nie! Wat is dit?
Galasiërs 5:13
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
1 Petrus 2:16
Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.
Ons is weer vry! MAAR daar is weer ’n verantwoordelikheid – dien mekaar, dien God! Dit is ons verantwoordelikheid – nie om die wet te gehoorsaam nie, maar om God en mekaar te dien.
Ongelukkig is dit nie hoe ons groot gemaak is nie. Ongelukkig is dit nie hoe ons ons kinders groot maak nie. En daarom sit ons met mense wat die 10 gebooie uit hulle kop ken, maar nie die vrug van die Gees kan opsê nie. Wat ken jy beter – die 10 gebooie of die 9 vrug van die Gees? Wat leer jy jou kinders – wat hulle nie mag doen nie of wat hulle wel moet doen? Navorsing vertel ons dat kinders 10 keer meer hoor wat hulle nie mag doen nie en wat hulle verkeerd doen as wat hulle reg doen. Is jou lewe so? Waarop fokus ek my lewe – mag nie of moet? Wet of dien? 10 gebooie of 9 vrug?
As ek by die werk is – wat mag ek nie doen nie of hoe dien ek?
By die huis? By die skool? Waar oortree ek of waar dien ek?
Is ek tevrede as ek in die aand kan sê ek het vandag nie te veel oortree nie? Of meet ek my dag aan hoeveel ek gedien het – God en ander? Onthou – sonde is nie in die eerste plek oortreding van die wet nie, maar mis van my doel. En my doel is ... dien God, dien ander!
Hoekom moet ons anders fokus? Want as ek God dien en my naaste dien, sal ek ook nie die reëls oortree nie, sal ek die wette gehoorsaam. Maar andersom werk dit nie – ek kan al die wette gehoorsaam en nog steeds nie God en my naaste dien nie, nog steeds nie my verantwoordelikheid nakom nie, nog steeds nie my doel bereik nie – nog steeds sonde doen! Ja, ek kan al die wette gehoorsaam en nog steeds sonde doen – want sonde is om jou doel te mis.
Jy is vry, maar dien God en dien jou naaste – dis Genesis 2 voor die sondeval.
Jy is vry, maar dien God en dien jou naaste – dit is die evangelie van Jesus Christus.
Vryheid plus verantwoordelikheid.
Tot aan die einde. Maar dan verander dit. Want, het julle opgemerk, in Openbaring 21 en 22 is daar nie meer ’n MAAR nie, is daar nie meer ’n verantwoordelikheid nie. Want eendag, na die wederkoms SAL ons God dien, SAL ons mekaar dien, sal ons eenvoudig net vry wees. Kom ons leef dit nou reeds. Jy is vry!
Amen.