Luister Preek | Laai Preek af | ![]()
|

Die pad na vryheid toe gaan deur die woestyn. Die pad na vryheid toe is nie maklik nie. Die pad na vryheid toe is in baie opsigte ʼn stryd.
Dit is sê maar ses weke na daardie groot gebeure van die bevryding uit Egipte. God se mense is nie meer slawe nie! God self het vir hulle ʼn pad deur die Rooi See gemaak. Die koning van Egipte, wat hulle gevange wou hou het saam met sy leer verdrink. God se mense is vry, en hulle is op pad na die land wat die Here al so lank terug aan Abraham en Isak en Jakob belowe het... En nou is dit ses weke verder op hierdie reis na vryheid toe deur die woestyn. Stadig maar seker begin die werklikhede van die reis op pad na die beloofde land inskop. Al die dag tot dag dinge van om aan die trek te wees deur die woestyn, kinders te versorg, trekdiere te laat rus, kampplek te kry... En nou ook, na ses weke, begin die kosvoorraad wat hulle kon saambring uit Egipte opraak. “Waar gaan ons kos kry? Waar gaan ons kos kry?” Skielik is die mense se aandag nie meer by die land van vryheid waarheen hulle op pad is nie, maar sommer hier naby rondom hulle. “Waar gaan ons kos kry?”
En dis net die gewone dinge van elke dag. Maar soms kom daar mos dinge oor jou pad wat emosie saamdra. Daar is een of ander bedreiging in jou lewe. Daar is een of ander konflik. Of een of ander opwindende ding waaroor jy baie bly is. Maar die vrees of die woede of die blydskap wat met hierdie ding saamgaan is so sterk dat dit maak dat jou gedagtes om en om hierdie ding draai. Jy word ingesuig, opgesuig daardeur. Jy kan aan niks anders dink nie. Soos die Israeliete wat op ʼn stadium aan niks anders kon dink as die kospotte van Egipte wat hulle nou verloor het nie.
Kan jy ook hiermee identifiseer, broer en suster? Gebeur dit met jou ook dat dit vir jou voel jou omstandighede is een lang stryd? En jy moet heeltyd druk-druk-druk soos ʼn voorspeler in ʼn losskrum. Voel dit vir jou ook of jy so opgesuig word in jou omstandighede dat jy maar min fokus op die pad na vryheid waarop die Here met jou op pad is - partykeer sommer heeltemal vergeet dat jy op hierdie pad is?
2. Om die glorie van God raak te sien
Hoor saam met die Israeliete dat die Here dit anders wil hê. Hy wil jou aandag hê by die dieper geheim van jou omstandighede. Dit is, by die pad na vryheid toe waarmee Hy met jou op pad is. Deur Moses sê die Here vir die Israeliete dat Hy wil hê in die aand moet hulle besef dat dit God is wat hulle uit Egipte bevry het. Met ander woorde hierdie werklikheid van hulle vryheid moet weer vir hulle oopgaan. En verder sê die Here dat Hy wil hê in die oggend moet die Israeliete sien hoe magtig die Here is. Die woorde wat hier in die Hebreeus staan is dat die Israeliete die kabod Jahweh moet raaksien. Dit kan ook beteken die glorie, die gewigtige teenwoordigheid van die Here. Die Israeliete moet sien: God self is hier by ons. Ons lewe niks minder nie as in God se eie teenwoordigheid!
Die manier waarop die Here sy mense help om hulle aandag by die dieper geheim van hulle omstandighede te hou is deurdat hy vir hulle op ʼn wonderlike manier kos gee daar in die woestyn. Die kwartels en die manna is die werklikheid daarvan dat ons aan die lewe gehou word, nie in die eerste plek deur ons eie harde werk nie, maar deur God. Die kwartels is waarskynlik trekvoëls wat deur die woestynwind van koers af gewaai word en dan doodmoeg in die woestyn gaan sit waar hulle sommer maklik gevang kan word. Die manna is waarskynlik ʼn suikeragtige soort stof wat deur sekere insekte afgeskei word wat in die Tamarisk bome van daardie geweste bly. Maar die punt is dat die Here dit op ʼn wonderlike manier vir sy mense gee. En Hy doen dit om te toets of hulle Hom in hierdie omstandighede sal raaksien. Miskien sou mens ook kon sê in hierdie gebeure is daar ʼn uitnodiging om God se glorie in die oggend raak te sien, en om in die aand te onthou dat jy bevry is.
Kan jy en ek hierdie uitnodiging in ons lewe hoor, broer en suster? Des te meer omdat die Here Jesus Christus ons vertel dat die manna daar in die woestyn eintlik vooruitwys na Hom toe. Hy is die ware brood van die lewe, en omdat God in Jesus Christus by ons is geld dit des te meer dat ons ware lewe die lewe in Jesus Christus is. Om net van dag tot dag te oorleef is nie waaroor menswees gaan nie. Om so opgesuig te word deur jou omstandighede dat jy nie dieper kyk nie is nie ʼn ware lewe nie. Jesus Christus is die brood van die lewe, en in Hom kan jy nie meer dieselfde dink oor lewe en dood nie. In Hom sorg God vir jou, selfs al het jy nie werk nie, selfs al het jy te veel werk, selfs al dink jy alles hang van jou af, en as ek nie alles gaan doen nie, dan gaan alles in duie stort. Kan jy hierdie werklikheid aanvaar, broer en suster? Dit is die werklikheid waarin die babatjie wat vanoggend gedoop is ingelyf is. Daar is ʼn ander, ware lewe...
3. Sabbatsritme
... en die Here wil hê dat ons hierdie ander lewe in ons lewe moet inoefen, en dit deel van ons lewensritme maak. Waarop stuur hierdie hele vertelling hier in Eksodus 16 af? Dit gaan nie in die eerste plek oor die kwartels en die manna nie. Ja, dit is ʼn wonder, maar waarop is dit alles gemik? Dit is gemik op die Sabbat. Die Sabbatdag is die rusdag. Dit is ʼn dag om God se nabyheid te vier en te beleef. Ja, ons is bevry, ja, ons is op pad na die beloofde land toe, maar hier, in die woestyn, kan en moet ons iets van die rus leef en uitleef. Om die Sabbat te vier is om te sê: ek weet my lewe kom nie uit my eie harde werk en bekommernis nie. Ek weet: my lewe kom uit God se hand. God gee genoeg sodat daar tye is waarop ek nie hoef te werk nie; nie net met die lysies en die dinge besig hoef te wees nie.
Hierdie Sabbatsgebod moet ons hard en duidelik hoor, broers en susters. Juis omdat Jesus Christus in sy lewe en dood en opstanding die ware rus in ons lewe ingebring het. Waarom kry ons nie die lysies en die eindelose besig wees neergesit nie? Waarom hou ons dag en in en dag uit daarmee aan? Die Israeliete wat van die manna oorgehou het, en nie vertrou het dat daar tog more weer sal wees nie, het agterkom dat dit begin vrot en stink het. Die mense wat op die Sabbatdag uitgegaan het om kos te versamel het niks gekry nie, want vantevore was daar reeds genoeg. Verstaan ons nie dat die dinge van ons lewe ook kan begin vrot en stink as ons net heeltyd daarmee besig is nie? Verstaan ons nie dat die dinge van ons lewe in elk geval gaan verdwyn in die niks as ons die uitnodiging tot rus in God ignoreer nie?
Hoe kan ons as die Here se mense Sabbatstye in ons gemeenskap hê? Hoe kan ek in my persoonlike lewe en in ons gesinslewe Sabbatstye inbou? Kan daar tye wees wat ek my selfoon afsit, die telefoon van die mikkie afhaal, nie my e-posse lees nie. Kan daar tye wees wanneer ons as gesin die TV en die musiek afsit? Nou is ons net saam in God se teenwoordigheid. Kan daar gebedstye in my lewe wees – selfs waar ek op kantoor is, wanneer ek die deur toemaak en die dieper geheim van die lewe vier?
4. Sabbatsbrood
... En kan ek hierdie dieper geheim met ander mense deel? Want dit is ook ʼn uitnodiging wat uit hierdie gedeelte na ons toe kom. Ons wêreld is so vol van mense wat net hier rondom hulle kyk. Wat net teen die buitekant vaskyk en as’t ware verlang na die kospotte van Egipte. Deur swaarkry, of deur hulle eie opstandigheid, of gedwing deur hulle omstandighede weet hulle nie van die vryheid nie, of kry hulle die geleentheid om die vryheid te vier nie. Wat kan ons as die kerk doen, wat kan ek as lid van Christus se liggaam doen om iets van die kwartels en manna, iets van die brood van die lewe wat Jesus self is, aan daardie mense te bedien? Gee ek vir my werkers ʼn rusdag? Gee ek vir my werkers ʼn behoorlike versorging? Help ek mense wat swaarkry? Dat daardie nek wat so afgebuig is kan opgaan...
Die Sabbat is ʼn groot nee vir die wêreld wat 24/7 aan die gang is. Besig, besig, besig met werk of speel of swaarkry. Nee! Daar is ʼn dieper pad van vryheid waarop ons is en moet wees. Kom ons leef hierdie dieper rus in ons lewensritmes. En kom ons deel die Sabbatsbrood met die mense om ons sodat hulle ook daardie uitnodiging kan hoor.
AMEN