
1. “Wat soek julle?”
Die eerste woorde van Jesus in die evangelie volgens Johannes is ʼn vraag. Jesus draai om, kyk twee manne stip in die oë, en vra: “Wat soek julle?” En miskien is dit Jesus se woorde aan ons, aan jou en my persoonlik, ook vandag. “Wat soek jy?” Wat is dit wat jou elke dag laat opstaan in die oggend en laat aangaan? Waarvoor lewe jy? Om mens te wees beteken maar om op soek te wees - selfs al erken jy dit nie teenoor jouself nie. Die vraag is net: waarna soek jý? Nou dat die jaar einde se kant toe staan is daar miskien ʼn bietjie tyd om terug te staan; asem te skep. Die jaar bietjie in oënskou te neem. Waaroor het dit dan nou alles gegaan vanjaar? Waarmee het ek my besig gehou? En was dit sinvol? Hoe laat dit jou voel as jy hierdie vrae hoor, broer en suster?
Die twee manne is dalk ʼn bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se direkte vraag aan hulle. Hulle antwoord nie van hulle kant af direk nie. Dalk weet hulle self nie waarna hulle soek nie. Al wat hulle weet is dat hulle soekend is. Hulle was dissipels van Johannes die Doper gewees. Johannes wat in die woestyn gepreek het, en die mense opgeroep het om hulle te bekeer. Die woestyn is in die Here se Woord baiekeer ʼn simbool van selfondersoek en van stroping. Ek word gestroop van al die vals goeters waarmee ek myself probeer gelukkig hou. Die goed word ontmasker as leuens. In die woestyn word ek gekonfronteer met die basiese vrae van menswees. En daarmee saam het Johannes die mense opgeroep om hulle te bekeer. Dus: kom tot inkeer. Raak bewus van wat hier binne aangaan. Raak bewus van al die baie maniere waarop jy besig is om jouself te bluf. En draai na God toe. Oriënteer jou weer op God. Dis Johannes die Doper se boodskap, en die twee manne wat sy dissipels was moes hierdeur opgeroep geword het om regtig soekend te wees. Soekend na die ware sin van waarom hulle op aarde is.
Miskien was jy en ek te besig gewees vanjaar om te vra waarna ons regtig soek. Maar daar is so baie mense vandag vir wie hierdie vraag regtig belangrik is. Veral jongmense, maar natuurlik nie net jongmense nie. So baie mense vandag vra die vraag of dit regtig ʼn sinvolle lewe is om maar net geld te jaag. Is materiële welvaart al waaroor dit gaan? Ek moet nou maar ʼn goeie werk kry sodat ek goed kan geld maak, en die naweke dan kan uitbreek en partytjie hou. Is dit regtig waaroor die lewe gaan? Jy kan ook net soveel die nuutste model selfoon, die volgende motor, die nuutste Playstation aanskaf, dan begin jy deur die advertensies van die verbruikerskultuur sien. En wat antwoord ons dan vir hierdie mense wat so soekend is? Miskien is jy een van hulle. Miskien is jy in die afgelope tyd in iets van ʼn woestyntyd in jou lewe.
Johannes die Doper se twee dissipels stap agter Jesus aan nadat Johannes vir hulle gesê het: “Daar is die Lam van God.” En dan draai Jesus om en vra hulle direk: “Wat soek julle?” Die twee manne antwoord “Rabbi, waar gaan u tuis?” Hulle weet self nie mooi wat hulle soek nie. Al wat hulle weet is dat hulle belang stel in hierdie leermeester, hierdie rabbi. Miskien het hy ʼn interessante nuwe perspektief op dinge.
Maar niks kon die twee manne voorberei op wat daarna gebeur het nie. Wat daarna gebeur het is ʼn wonderlike getuienis van verandering. Jesus sê vir hulle: “Kom saam dan sal julle sien waar ek tuis gaan.” Hulle gaan toe saam en het gesien waar Jesus tuis gaan, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. Wat het in daardie tyd gebeur waarin hulle by Jesus gebly het? Dit word nie direk gesê nie, maar wel indirek. Nadat hulle by Jesus weg is, gaan sê een van die manne, Andreas, vir sy broer Simon Petrus: “Ons het die Messias gekry!” Met ander woorde: “Ons het dié Een gekry wat deur God gestuur is; die Christus.” Wow, aan die begin van die dag noem die twee manne vir Jesus “Rabbi.” Aan die einde van die dag vertel een van hulle vir sy broer dat hulle die Messias gekry het. Wat ʼn verandering! Aan die begin van die dag: kom ons gaan luister bietjie na hierdie leermeester. Miskien het hy ʼn interessante filosofie oor die sin van die lewe. Aan die einde van die dag: Ons het die Christus gekry! Niks minder nie as dat ons soektog op ʼn manier verby is. Al weet ons nie alles nie, weet ons by wie die einde van die soektog is. En ons gaan weer terug na Hom toe. En tussenin – vanaf die tyd dat hulle vir Jesus “Rabbi” noem, tot die tyd dat hulle sê “Ons het die Christus gekry” is daar die tyd dat hulle by Jesus gebly het. Wat het in daardie tyd gebeur? Wat sou dit beteken om by Jesus te bly?
3. Om by Jesus te bly
Wel, hierdie woord “om te bly”, “om tuis te gaan” is ʼn spesiale woord in Johannes se evangelie en in die briewe van Johannes. Dit word nie minder nie as drie en sestig keer gebruik. Dit dui natuurlik daarop om fisies in iemand anders se teenwoordigheid te wees, soos wat die twee manne fisies by die huis was waar Jesus gebly het. Maar meer as dit dui hierdie woord op ʼn verhouding. Om by die ander een te bly, en veral om by Jesus te bly is om iets van mekaar se lewe te deel. Om eintlik in die ander een te bly. Om die ander een se hart te hoor.
Wat het gebeur in daardie tyd waarin die twee manne by Jesus was, die tyd waarin hulle verander is sodat Andreas nou vir Jesus die Messias noem? Het hulle saam gebid? Het Jesus met hulle sy liefde vir God die Vader gedeel? Ons weet nie. Op ʼn manier bly dit ʼn geheim. Want vir elke mens is dit ʼn eie, baie persoonlike ervaring om so by Jesus te bly en jou lewe te deel. Niemand anders kan sien wat hier binne aan die gebeur is nie, net jy self. Maar om by Jesus te bly is sekerlik om in Hom die diepste diepste geheime van jou eie bestaan te ontdek. Aan die een kant daardie gebrokenheid, daardie seer wat jy nooit teenoor iemand anders erken nie. Wat jy tot op daardie stadium dalk nie eers teenoor jouself wil erken nie. Om my verlange na behoort, my verlange na geluk, my verlange na sekuriteit te erken vir wat dit is. En om dan aan die anderkant te erken dat hierdie diepste begeertes van my net in God vervul word. En so word ek al hoe meer vry van die maniere waarop ek hierdie begeertes op ander plekke tevrede probeer stel het.
Om so, in daardie bly by Jesus, die diepste geheime van myself te ontdek, is ook om te ontdek dat God self die Een is wat in ons bly. Dis die wonderlike geheim wat al hoe meer vir my duidelik word wanneer ek so by Jesus bly: hoe dieper ek in myself ingaan, hoe meer kom ek agter dat God die grond van my bestaan is. Hoe meer ek in myself ingaan, hoe dieper ek luister, hoe meer hoor ek ʼn Woord wat nie uit myself kom nie. Hoe meer hoor ek God se woord. Net ʼn paar verse vantevore, in daardie baie bekende eerste deel van Johannes se evangelie, hoor ons dat die Woord mens geword het en onder ons kom woon het. Die Woord het by ons kom bly – weer daardie begrip van bly (tuisgaan.)
God se Woord het mens geword en by ons kom bly sodat ons mense God se Woord kon herken as die diepste grond van ons bestaan. Dit is die boodskap van Kersfees. Omdat Hy by ons kom bly het kan ons by Hom bly, en kan ons al hoe meer verstaan waarom ons aan die soek is. Ons kan al hoe meer verstaan na Wie ons regtig aan die soek is. En so word ons al hoe meer vry.
4. Jy en ek geroep
En daarmee het ons terug gekom by Jesus se vraag aan die begin: Wat soek julle? Wat soek jy? Hierdie is nie net Johannes se weergawe van hoe die eerste dissipels begin het om Jesus te volg nie. Hierdie is die vraag aan elkeen van ons persoonlik. Het u opgemerk dat ons nie weet wie die tweede dissipel is nie? Ons weet die naam van die een man was Andreas – die een wat later vir sy broer Simon gaan vertel het van die ontmoeting. Maar wie was die ander een? Ons ken nie sy naam nie. Sy naam bly ‘n leë spasie. Miskien is dit sodat elkeen van ons ons eie naam daar kan invoeg. Sodat elkeen van ons kan hoor: Wat soek jý?
En sodat elkeen van ons die uitnodiging kan hoor om saam met Jesus te kom; om by Hom te kom bly. Wat sou dit vir jou beteken om by Jesus te bly? Om bereid te wees om jou lewe oop te maak vir Hom? Om bereid te wees om saam met Hom af te gaan na die diep dinge hier binne – ook daardie goed wat seer is? Om bereid te wees om te waag ter wille van groter vryheid; bereid te wees om nuwe dinge te leer van die lewe en van jouself? Ja dit beteken dit alles en nog meer. Jy self sal die beste weet wat dit vir jou beteken. Sekerlik sou dit beteken dat daar tyd en spasie in jou lewe moet wees vir sulke geheime ontmoetings. Waar net jy weet wat gebeur terwyl jy so by Jesus bly. Mag hierdie rustiger dae aan die einde van die jaar, hierdie Kerstyd so ʼn tyd vir elkeen van ons wees. ʼn Tyd om weer opnuut te hoor: die Woord het mens geword en onder ons kom bly. En dan daarop te antwoord met: Ons – ek - het die Messias gekry!
AMEN