![]()
| ![]()
|
Wat die bruid nie alleen kan doen nie
1. ʼn Bruid aan die wag?
Miss Havisham is ‘n karakter wat deur Charles Dickens in sy boek Great Expectations verewig is. Sy is ʼn ou vroutjie wat baie jare gelede op haar troudag deur haar geliefde versaak is. En haar hele lewe het toe op daardie oomblik bly vassteek. Luister bietjie hoe word sy in die boek beskryf: ...But, I saw that everything within my view which ought to be white, had been white long ago, and had lost its lustre, and was faded and yellow. I saw that the bride within the bridal dress had withered like the dress, and like the flowers, and had no brightness but the brightness of her sunken eyes. I saw that the dress had been put upon the rounded figure of a young woman, and that the figure upon which it now hung loose, had shrunk to skin and bone... Dis Miss Havisham, maar is dit nie dalk ʼn prentjie van die kerk ook nie - of in elk geval hoe baie mense oor die kerk dink nie? Die kerk is mos die bruid van Christus. So word sy baiekeer beskryf. Ook in die gedeelte uit Openbaring waaruit ons nou gelees het.
2. Jesus: Ek kom gou
Die boek Openbaring eindig met ʼn beskrywing van Jesus en die kerk in die laaste dae – die tyd waarin ons nou leef. En as ʼn mens daarna luister is die idee wat jy kry tog allesbehalwe van ʼn vasgevriesde situasie – Jesus afwesig, en die kerk soos, Miss Havisham, aan die wag. Eintlik, in wat Jesus en wat die kerk hier sê, is daar so baie beweging en dinamika opgesluit. Jesus se woorde is die belangrikste: “Ek kom gou.” Dit word drie keer in die gedeelte herhaal om die belangrikheid daarvan te beklemtoon. Jesus kom gou. Is dit net iets wat in die toekoms gaan gebeur? Is Jesus self nou aan die stilsit? In ons geloofsbelydenis sê ons dat Jesus sit aan die regterhand van die Vader. Maar dit is bedoel om sy heerlikheid en sy ereposisie uit te druk. Dit beteken nie dat hy op ʼn ander plek besig is om te wag nie. Dink aan Jesus se belofte in Johannes 12:32 “As ek van die aarde af verhoog is, sal ek almal na my toe trek.” Dink aan wat Paulus skryf in Efesiërs 4:10 “Die Een wat neergedaal het, is ook die een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.” Kan ons nie dalk sê dat Jesus nou, in hierdie tyd na sy hemelvaart juis aktief is nie? Hy is nou aan die kom. Want wat gebeur is dat die volle betekenis van sy oorwinning nou uitgewerk word in die hele skepping (en onthou, die skepping is ruimte en tyd, né.) Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die Wortel en die Môrester. Nou, in hierdie tyd na sy hemelvaart sprei die betekenis daarvan dat Christus alles is deur die hele skepping. Soos rimpels wat uitkring op die water sprei dit uit dat Christus alles bymekaar hou. So op ʼn manier is Jesus nou aan die kom. Dis klaar aan die gang. Hy is klaar besig om die skepping en ons mense in homself as offer aan die Vader te gee. Onthou, die einde het reeds begin aanbreek met Jesus se dood en opstanding uit die dood. Daarom skryf iemand eenkeer: Jesus se wederkoms is maar net die voltooiing van sy hemelvaart. “Ek kom gou.” Dit is klaar aan die gang.
3. Die kerk: Kom en kom
En die kerk? As ons hier na Openbaring 22 luister is die kerk ook allesbehalwe staties. In hierdie gedeelte sê die kerk ook twee keer “kom!” In die eerste plek sê die kerk vir die Here “Kom”. “Amen! Kom, Here Jesus!” En op ʼn paar plekke in die gedeelte word uitgespel wat dit beteken: Dit beteken om Jesus se woorde ter harte te neem. Met ander woorde nie net aan die buitekant nie, maar dat God se woord jou gees oopmaak, jou van binne uit deel maak van wat gebeur. Dit beteken om jou klere te was in die bloed van die Lam, met ander woorde om in Jesus Christus gereinig te wees. En soos wat ons nou al ʼn paar keer gehoor het is dit wat die kerk is: die bruid van Christus is hierdie gemeenskap wat Jesus se woorde ter harte neem. Dit is hierdie nuwe gemeenskap wie se verhouding met God reg is. Die bruid is die een wat vir Jesus Christus sê kom.
Maar dan sê die bruid nog ʼn keer “kom”, en hierdie keer is die “kom” vir die wêreld bedoel. Elkeen wat dors het moet kom om die water van die lewe te kom kry, verniet! Die kerk nooi almal uit: kom word nuut, kom word deel van hierdie groot beweging van om opgeneem te word in Jesus Christus se beweging waarin Hy alles onder een hoof verenig, en alles as ʼn offer van lof aan God toewy. Die twee “kom” uitroepe van die kerk – “Kom Here Jesus” en “Kom” as ʼn uitnodiging aan die wêreld.
En dan, in die derde plek is dit ook so dat die kerk in hierdie laaste dae waarin ons leef steeds te doen kry met swaarkry en pyn en boosheid. Daar is steeds dwaalleraars, bedrieërs, onsedelikes, moordenaars en mense wat valsheid liefhet in die wêreld. Die verlange roepe – “kom” – klink op deur die ervarings van swaarkry en van teenspraak.
4. Die Gees en die Bruid
Die bruid van Christus is allesbehalwe sittend, soos Miss Havisham, liewe broers en susters. In baie opsigte moet ons eerder oor die kerk dink as die bruid wat reeds deur God die Vader in die paadjie afgelei word om die bruidegom voor te ontmoet. Die erediens het reeds begin, hoewel die volheid daarvan nog nie aangebreek het nie. Die volheid moet nog kom.
Maar nou die vraag: hoe kan die kerk dit doen? Hoe kan die kerk dit regkry om alles wat hier in Openbaring 22 beskryf word te wees en te doen? Hoe kan die bruid sê “kom”? In die eerste plek vir die Here, en dan ook vir wêreld? Hoe kan die bruid rein wees, met skoon gewaste klere aan? Hoe kan die kerk stralend en nuut bly ondanks die pyn en die konflik en die teenspraak in die wêreld?
Dit is natuurlik in die Heilige Gees! Dit is die Gees wat saam met die bruid sê “Kom”. Nog beter: dit is omdat die Bruid saam met die Gees sê kom, dat sy dit hoegenaamd kan sê. Dit is die gees wat die kerk Jesus Christus se woorde ter harte laat neem. Dit is die gees wat die reinheid, die versoening in Jesus Christus oor die bruid laat stroom soos lekkerruik olie.
Waarom is die kerk nie soos Miss Havisham nie? Omdat die Gees van God by die Bruid is – in die bruid. Hierdie is nie maar net ʼn menslike organisasie nie. In die kerk is God en mens klaar bymekaar. En die liturgie is ʼn dans van die Heilige Gees waarin die kerk in Christus na God toe gaan. God en mens bymekaar. Dit is aan die gebeur, en dit is op pad na die volheid van die viering toe. Mag die betekenis van Pinkster opnuut vir ons oopgaan in die tyd wat voorlê, en ook – juis - in die viering van die nagmaal nou.
AMEN