Luister Preek | | Laai Preek af | ![]()
|

1. Die saad groei vanself
Waarom groei ʼn saad? Wat maak dat ʼn saadkorrel ontkiem en begin groei? Op ʼn manier bly dit tot vandag toe vir ons ʼn misterie. Die wetenskap leer ons allerhande dinge van sade en van groei. Ons weet hoe werk bevrugting; hoe werk seldeling; watter biochemiese prosesse vind plaas ... Ons kan hierdie kennis omskakel in allerhande tegnieke om sade beter en vinniger te laat groei. Maar ons kan nie die saad self láát groei nie. Ons kan dit nie máák groei nie. Die saad groei vanself. Daar is hierdie misterievolle beweging waardeur die saad homself uitstrek na wat dit veronderstel is om te wees: ʼn volgroeide plant. En deur die loop van tyd ontwikkel die saad vanself in daardie rigting.
2. Jesus Christus, dié saad
Dit gaan hier oor my en oor Jesus Christus. Hy is die Saad. Hy ís die koninkryk van waarheid en van liefde en van getrouheid. Op ʼn ander plek hoor ons dat Jesus, die koringkorrel, Homself gee om te sterf. En wanneer Hy, die koringkorrel, sterf, dan kom daar ʼn koringaar op, en uiteindelik ʼn groot oes. So Jesus Christus self is die saad wat in die grond van my lewe gesaai word. Die ware Lewe kom in my lewe in as ʼn groot geskenk. Dit word aan my oorgelewer. Maar wat gebeur dan?
3. Tydsaam
“Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ʼn halm, dan ʼn aar, dan die vol koringaar.” Die saad wat gesaai is, is nie onmiddellik groot nie. Tyd is nodig. Die saad groei en gaan deur al die verskillende seisoene. Eers kom die halm, dan die aar, dan die vol koringaar. En die man? Hy is daar. Hy slaap en hy staan op, hy slaap en hy staan op. Hy is nie weg nie, en tog is dit nie hy wat die saad láát groei nie. Sy werk is om te wag, om daar te wees, om aandag te gee.
Is hierdie nie so ʼn ander houding as wat ons dikwels wil inslaan in ons lewe nie, broers en susters? Produktiwiteit is vir ons baie belangrik. Ons moet dinge gedoen kry. Ons wil goed laat gebeur. Wat kan ek doen? Met wie kan ek gaan praat? Waarheen kan ek ry om gedoen te kry wat gedoen moet word? Maar wat is die gevolg van hierdie houding van eindelose aktiwiteit? Ek is nie daar nie. In my binneste is ek orals behalwe hier in hierdie oomblik, in hierdie nou om iets van die wonder wat aan die gebeur is te beleef. My kop is heeltyd op ander plekke. Ons wêreld maak daarvan ʼn deug om hard te werk daarbuite en om met allerhande dinge besig te wees. Maar wat gebeur? Ons word so verstrooi in al die dinge waarmee ons besig is, dat daar geen tyd is om net hier te wees, die volheid van die oomblik te beleef vir wat dit is nie. Selfs wanneer ons nie werk nie, trek ons ons aandag weg na die Franse Ope of die Rugby op Loftus of na iemand anders se lewe toe.
En maak ek nie juis ook so met die koninkryk van God wat soos ʼn saad in my lewe gesaai is nie? Jesus Christus is in my lewe. Prys God daarvoor dat Hy my deur die Gees in Christus ingeplant het. Maar. Die saad wil groei hier binne. Die saad wil ontwikkel tot die vol koringaar van ʼn mens wat al hoe meer soos Jesus Christus lyk. En waar is ek? So besig, besig, besig met allerhande dinge – ook om baie goeie goed te doen, maar dis alles daar buite. Maar is ek regtig hier? Gee ek aandag? Ek kan nie die volgroeide koringaar tussendeur al die ander goed gou-gou by Cum boeke gaan koop nie, dit moet in my lewe groei, al is ek nie die een wat dit laat groei nie. Het dit nie nodig geword dat ons ons verhouding met tyd weer bietjie bekyk nie? Moet ek tyd altyd juis gebruik om iets te doen? Is dit nie so belangrik dat daar genoeg tye in my lewe is van heilige niksdoen nie? Wanneer ek net hier is; net hierdie oomblik beleef vir wat dit is; net by Jesus Christus is waar Hy nou is in my lewe – as saad, of as halm, of as koringaar.
4. Die ander plante
En weet u wat, as dit gebeur, dan mag ek dalk van ʼn ander soort groei in my lewe bewus word. Maar dis nie ek wat dit doen nie, dis die Heilige Gees. Miskien is dit ʼn manier om die volgende klein gelykenissie wat Jesus vertel te verstaan. Die een oor die mosterdsaad. Sien, behalwe die nuwe lewe wat soos ʼn saad in my lewe gegee word, is daar ook ander sade in my lewe. En veral aan die begin van hierdie reis van heiligmaking lyk daardie ander sade baie groot en indrukwekkend. En as ek nie mooi hier is nie, nie mooi aandag gee nie, dan kan dit maklik gebeur dat ek dink die grond van my lewe gaan eintlik oor daardie ander sade. Oor besittings, oor status, oor plesier, oor sekuriteit. En daardie sade groei so deksels maklik. Maar eindelik loop hulle op niks uit nie; hulle bring nie vrede nie.
Die saadjie wat so klein lyk word uiteindelik die grootste plant wat aan die voëls ʼn rusplek gee waar hulle kan kom nesmaak. Uiteindelik is die nuwe lewe in Jesus Christus dit wat rus en vrede bring; dit wat heelheid bring. As ek hier is, as ek aandag gee, as ek tyd spandeer, dan kan die Heilige Gees dit gebruik om my aan te trek na die groot boom toe wat besig is om hier in my lewe vorm aan te neem; weg van die ander plante wat my aandag wil aftrek.
5. Vadersdag
Dis Vadersdag vandag, broers en susters. So kom ons probeer vandag hierdie woord van die Here spesifiek vir die vaders prakties maak. Ons as pa’s wil mos die beste vir ons huisgesinne hê. Ons sal enigiets doen om die welsyn van ons gesinne te bevorder. Maar het jy al ooit daaroor gedink dat die beste vir jou huisgesin, vir jou kinders sal wees as jy juis nie heeltyd met iets besig is nie; as jy nie heeltyd daar buite in die wêreld van dinge besig is om geld te maak, of voor te berei vir afsprake, of iets te doen nie.
Kan dit wees dat om daar te wees; om niks te doen, in die sin van om net hier en nou teenwoordig te wees, dalk die grootste geskenk is wat ek as pa vir my kinders en my huisgesin kan gee? Kan dit wees dat ek dalk die beste vir my kinders doen wanneer ek nie heeltyd besig is om geld te maak nie, selfs al kan hulle dan nie na die beste skool toe gaan of die beste krieketkolf of hokkiestok kry nie. Maar wat my kinders kry, en wat hulle oorneem saam met die melk oor hulle pap in die oggende is ʼn pa wat teenwoordig is; pa wat regtig hier is. ʼn Pa wat aandag gee en verwonderd is oor die groei wat in sy eie lewe gebeur, en van daar uit kan aandag gee aan die groei in sy kinders se lewens. ʼn Pa wat op sy manier op pad is na daardie groot boom van vrede in sy lewe waarin die voëls kom nes maak.
Kom ons vier ons pa’s vandag wat hulle so oor ʼn mik werk ter wille van ons welsyn, maar kom ons spoor hulle aan om genoeg tyd te maak in hulle lewens om net daar te wees, sodat hulle kan aandag gee.
AMEN