Luister die Preek | Laai die klankbaan af (mp3) |

psalm_63_-_wenke_vir_woestynreisigers.docx |
1. Die pad deur die woestyn
Die pad tussen Windhoek en Hentiesbaai in Namibië is lank en reguit. Die een keer toe ek en Donette die pad gery het was dit vir my plek-plek nogal grillerig. Daar is nie ‘n ander motor in sig nie, en jy wonder hoe lank jy daar in die leegheid sal moet staan as jou kar breek totdat daar dalk weer ‘n mens verbykom. Nou, gelukkig het ons bakkie nie gebreek nie, maar dit het my net laat besef dat die woestyn darem maar ‘n onherbergsame plek is, hoor. Kyk, dit het sy eie mooiheid en bekoring, maar jy wil nie daar bly nie. Jy is eintlik tog altyd deur die woestyn op pad. Op pad na die ander kant toe. Iewers waar daar meer water is, meer groenigheid is, meer lewe is. Jy kan ‘n rukkie in die woestyn oorbly, maar jy is eintlik altyd op pad déúr. Jy kan nie bly waar jy is nie, anders sal jy doodgaan. Ek wonder of Dawid ook aan hierdie dinge gedink het destyds toe hy daar in die woestyn van Juda was? Ek wonder of iets hiervan in hom aan die woel en werskaf was toe hy hierdie psalm geskryf het?